Local NewsNews

Ruan se drome bereik nuwe hoogtes

Die werk wat hy nou in Dubai doen behels die rehabilitering asook peskontrole van voëls.

POLOKWANE – Ruan Botha (28) het nog altyd ‘n liefde vir roofvoëls en die natuur gehad, en vandag streef hy sy droom in Dubai na.

Dié oudinwoner van die stad het op laerskool al sy liefde vir roofvoëls ontdek en met die opening van WildThingz by Sun Meropa het hy naweke daar spandeer om meer oor dié voëls te leer.

“Aan die einde van my laerskoolloopbaan het ons by die kus vakansie gehou, ek kan nie presies onthou waar nie, en daar het ons ‘n uitstalling oor eksotiese diere bygewoon. Ek het met een van die aanbieders oor die een massiewe uil gesels en self begin navorsing oor roofvoëls doen. Ek het gedink om met dié voëls te werk is die beste soort werk ooit,” vertel hy.

Gedurende die tyd wat hy by WildThingz gehelp het, het hy ook soms by Sun City se voëlpark gaan uithelp en was op 16-jarige ouderdom die jongste persoon in Suid-Afrika wie op daardie stadium ‘n B-gradering by die South African Falconry Association (Safa) verkry het.

“‘n Mens begin op die D-graderingsvlak en dit neem normaalweg om en by vyf jaar om van D-vlak tot B-vlak te gradeer. Ek het dit in drie-en-‘n-half jaar voltooi. My afrigter is kort na my gradering oorlede en ek het ‘n breuk van die sport geneem. Na skool het ek by die Wildlife Film Academy studeer en vir twee jaar in Mosambiek en die Kruger Nasionale Park gaan werk waar ek programme oor die natuur gemaak het. Ek is daarna weer terug na Limpopo waar ek by my tannie-hulle op ‘n wildsplaas gewerk en my professionele jagkursus voltooi het. My droom was nog altyd om my eie ding te doen en nie vir ‘n baas te werk nie en ek het in ‘n stadium jag-DVD’s gemaak om dit na te streef. My belangstelling het na ‘n wyle meer na die fiksheidsbedryf geleun en ek was ‘n persoonlike fiksheidsafrigter en het later van tyd gesondheidsaanvullings by ‘n apteek in die stad verkoop. Dit was gedurende my tyd by die apteek wat ek deur ‘n maatskappy in Dubai met ‘n werksaanbod genader is,” vertel hy.

Die werk wat hy nou in Dubai doen behels die rehabilitering asook peskontrole van voëls.

“Besighede sal ons kontak om indringervoëls te verjaag. Om dit te doen laat ek my valk in die area rondvlieg vir ‘n paar minute wat die indringervoëls bedreig laat voel waarna hulle trek. Ons het ook ‘n roofvoëlpark oopgemaak waar ons mense inlig oor valke en die tegnieke hoe om met valke te jag. Die mark vir wat ek doen is baie beter in Dubai as in Suid-Afrika, een van die grootste trekpleisters is dat ek die geleentheid het om voëls wat seergekry het te help rehabiliteer en dan weer in die natuur vry te laat,” verduidelik hy.

Hy het onlangs sy eie besigheid, CaptureLife, gestig waar hy ander mense wie nog nie hul voete in die besigheidswêreld gevind het nie, help om ‘n sukses te maak.

“Ek het die geleentheid van ‘n leeftyd gekry toe iemand aangebied het om my te help en nou wil ek ander mense dieselfde geleentheid bied. Alhoewel ek nie besigheidsbestuur studeer het nie kan ek my suksesresep met ander deel.”

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button