NewsSchools

Vestig roetine vroeg-vroeg

Review het onlangs 'n draai gemaak by Werk en Wen Kleuterskool, waar 'n paar van die onderwysers raad gegee het aan ouers oor die belang van roetine in 'n kind sê lewe.

POLOKWANE – “Dit is altyd belangrik om ‘n kind in te lig oor ‘n roetine, sodat die kind kan weet wat van hom of haar verwag word,” vertel juffrou Hannelie Barnard.

Sy verduidelik dat, al word dit verkies dat ‘n kind tydens die vakansie by ‘n skoolroetine moet hou, dit nie ‘n moet is nie.

“Tydens vakansies is daar maar ander aktiwiteite wat plaasvind so dit is nie noodsaaklik om dan by die skool se roetine te bly nie, maar dit is nogsteeds belangrik om vir die kind te verduidelik hoe sy roetine in die vakansie gaan werk.”

Roetine en dissipline loop hand aan hand, verduidelik sy.

Juffrou Susan van Aswegen sê hoe jonger ‘n kind is, hoe belangriker en makliker is dit om ‘n roetine te vestig.

“Dit bou selfvertroue en laat die kind veilig voel omdat hulle weet wat volgende gebeur,” vertel sy. Sy sê ook dat dit belangrik is om ‘n roetine af te wissel.

“Jy kan ook die roetine afsluit deur byvoorbeeld ‘n storie te lees vir hulle voor bedtyd, hulle hou baie daarvan, en met roetine kom dissipline self in plek, omdat hulle weet wat van hulle verwag word.”

Juffrou Linda Schoeman sê dat sy uit ‘n juffrou, ma en ouma se oogpunt kan sê dat roetine beslis belangrik is.

“As ‘n kind ingelig is en weet wat van hulle verwag word, voel hulle vanself baie veiliger en baie meer gemaklik.”

Sy verduidelik dat ‘n kind al van babatyd af in ‘n roetine moet kom, en presies moet weet wanneer hulle moet bad, eet en slaap.

Werk en Wen Hoof, Monica Strauss, vertel dat ‘n roetine nie net ‘n kind gemaklik maak nie, maar hom gereed kry vir skool ná kleuterskool.

“Met roetine raak ‘n kind geborge en as ‘n kind geborge raak, kan hy of sy emosioneel groei, minder skaam wees en ook nie sommer huil as hul na die groter skool toe gaan nie.”

Sy sê ook dat, as die kind ‘n taak nie betyds doen nie sal die juffrou hom help, as die kind verder struikel sal die onderwyser hom verwys na ‘n arbeidsterapeut, en dit is iets om op te let.

“Ouers moet probeer bydra tot ‘n roetine, want sodra ‘n kind uit roetine gehaal word vir ‘n klein oomblik, byvoorbeeld om laat te wees vir skool, kan dit heel sy of haar hele dag omkrap,” vertel sy.

Juffrou Strauss het die skool se opvoedkundige dagprogram voorsien om te wys hoe ‘n roetine min of meer werk:

07:00 tot 08:00, Aankoms en vryspel binne-in lokaal.

08:00 tot 08:20, Gewyde Opening, register en weerkaart.

08:20 tot 08:35, Toiletroetine.

08:35 tot 08:45, Taal-persepsie- bekendstelling van tema, versie, wetenskap.

08:45 tot 09:15, Beweging en musiek.

09:15 tot 10:15, Skeppend-kuns.

10:15 tot 10:30. Verversings.

10:30 tot 11:45, Buitespel.

11:45 tot 12:00, Opruim.

12:00 tot 12:10, Toiletroetine.

12:10 tot 12:30, Storietyd-luistervaardigheid.

12:30 tot 13:00, Rustyd.

13:00 tot 13:15, Verdaag.

13:15 tot 17:15, Naskool.

calvyn@nmgroup.co.za

Related Articles

Back to top button