Local NewsNews

Vriende van toeka tot nou

'n Vriendskapsband wat só sterk is dat dit al vir meer as sewe dekades hou, is nie iets waarvan 'n mens alledaags tehore kom nie.

POLOKWANE – Susie, haar broer Nick Claassens en hul kindervriend, Boy Kgopeyane loop al ‘n lang pad saam en is trots om te vertel hoe hul nou band oor die jare geblom het.

“Saam grootword het soveel meer waarde wanneer ‘n mens saam swaar gekry het. Dit vorm ‘n sterker band wanneer ‘n mens van kindsbeen af saam geleer en gewerk het,” vertel Nick.

Op die ryp ouderdom van 81 en 83 vertel die drie van hul avonture en grootword op die plaas, ‘n plaas wat byna 100 jaar in die familie se besit is.

“Op die plaas was daar nie tyd vir speel nie, almal moes hul deel doen as dit by werk kom. Ons het al van kindsbeen af geleer hoe om op die plaas en boerdery te help. Dit is iets wat deel van ons menswees geword het,” onthou Nick.

“Omdat daar nie tyd was vir speel nie het ons nie speelgoed gehad nie.

“Ek het wel uit mieliestronke en blare vir my poppe gemaak maar moes dit vinnig weggooi wanneer my pa naby was,” vertel Susie.

“Ek het eendag nadat ek die osse op die plaas klaar uitgespan het eerder voor die huis gaan in pleks van die osse oppas. Ek het niemand gepla nie, maar natuurlik kom my ouer suster en karring aan my waarna sy vir my skewe bek trek en weghardloop. Ek het ‘n ou koekblik wat naby my gelê het opgetel en haar daarmee gegooi waarna sy begin huil het. Nodeloos om te sê het ek baie vinnig van die osse wat ek moet gaan oppas, onthou,” skerts Nick.

Susie lag en vertel met ‘n breë glimlag van die keer toe hy haar met ‘n lemoen probeer gooi het en ‘n ruit gebreek het.

“Ons ouers was baie streng, nie bang om die hand in te lê nie. Wanneer daar gepraat is het kinders geluister,” vertel sy.

Tussen broer en suster sit Boy wie saam kan lag oor al die pret want hy was van die begin af deel daarvan. “Op die plaas het ons gewerk, maats geraak en mekaar grootgemaak. Ons het deur al die dinge soos Apartheid en die politiek saam geleer en grootgeword,” onthou hy.

Hy vertel van die ander kinders wie hom nie wou laat skoolgaan het nie en hoe hy in die moeiliker jare van diefstal beskuldig was.

“Ek het later nie meer skoolgaan nie en het op die plaas grootgeword. Daar het ek geleer van groot wees en van kos plant en sorg vir die land. Dit was my skool en ek is nie ‘n dag spyt nie,” sê hy.

Nick en Susie vertel dat die plaaswerkers saam met hulle familie geboer het. Hulle vertel dat elkeen sy eie stuk land gehad het, party selfs diere ook. “Die mense van lank terug was slim, hulle kon met die osse praat. Hulle het die osse by die naam geroep en hulle het self die kop gehou om ingespan te word. Vandag se mense kan dit nie doen nie,” vertel Boy.

Dié drie se raad aan jongmense is om te spaar. “Vergeet van die blik karre en die groot huise, spaar vir jou pensioen en mediese fonds, jy sal dit op jou oudag waardeer,” vertel Susie.

Wil jy boer? “Kweek bome of plante, groente of vrugtebome. So kan jy bespaar. Jy kan selfs daarvan verkoop indien jou tuin floreer,” las Susie by.

Om vir soveel jaar bevriend te wees, beteken ‘n mens groei saam, stem hulle saam.

En hiervoor, is die driemanskap baie dankbaar.

 

riana@nmgroup.co.za

Related Articles

Back to top button