BlogsOpinion

Die Kerskalkoen

Te midde van: Nee, ek het nie teruggeglip in 2016 nie. Dis net dat ek eers oor die Kerskalkoen moet kom voor ek kan Nuwe Jaarsvoornemens begin maak.

Nou kom ons begin by die begin. Die Greylings se Kerskalkoen is nie uit Amerika ingevoer nie. Nee, ons pappa het dit self gebring. Met ‘n inkopielysie wat lees: “1 hoender”, kom hy ewe trots by die huis aan met twee heel kalkoene. Dit het ‘n rukkie geneem om hom te oortuig dis nie die mooi groot hoenders wat hy gedink het nie. Nadat ons dit heerlik gestop en tot goud bruin gebak het, het dit ‘n tradisie geword.

En toe gebeur 2016. Nie my beste jaar nie! En vroeg, baie vroeg, die jaar breek die laaste oorblywende skarnier van my oonddeur af. Dis ‘n deftige ingevoerde Italiaanse gasstoof wat ek 27 jaar gelede by my skoonma gekry het. Skarniere is nie volop nie.En soos dit maar gaan met huishoudelike takies, bly ons die jaar sonder ‘n oond.

Ek en die kinders het al koek gebak in ‘n braaipan, kaaspoffertjies in die ‘doughnut’-masjien en pizza op ‘n warmplaat.

Vir alles het ek kans gesien en my beste gegee, soos ‘n goeie vrou wat geduldig aanhou en uithou en in stilte verdra. Maar om die Kerskalkoen gaar te kry sonder ‘n oond, kon (wou) ek eenvoudig nie doen nie.

Ons is nie bang nie, ‘n boer maak ‘n plan.

Die Kersfees kom pappa toe met ‘n kalkoen en ‘n oond by die huis aan.En net soos met die kalkoene jare gelede, het hy nie voluit gelees nie. Dis ‘n dierbare klein oondjie met twee plaatjies bo-op en ‘n glasdeurtjie, ‘n rakkie en ‘n handvatseltjie waarmee jy die rakkie kan uitlig. ‘Cute’ en deftig met ‘n bo- en onder-element, kan ‘n mens nie anders as om daarvan te hou nie.

Net een probleem, die binnekant is so groot ssos ‘n A4. E besit geen oondbakke wat daarin pas nie. Iewers uit my Ouma se kombuis is daar twee klein kolwyntjiepannetjies wat wel pas.

Ses uur op Ou kersaand begin ek kook. Daar was Eisbein, steak en kalkoen met baba-aartappeltjies en –uitjies op die spyskaart. Ek het begin met die Eisbein, daarna die steak wat saggies gebak moet word tot jy hom met ‘n vurk kan sny. Daarna is die kalkoen in. Hy kon nie platle nie en moes so half op een sy draai. Daar was nie plek vir die aartappeltjies en uitjies nie, so hulle was op hulle eie.

Teen 12 uur kon my kinders nie meer die reuk uitstaan nie. So oud soos hulle is, kon hulle ook nie wag vir aand om persente oop te maak nie.

Eindelik het hulle alle weerstand afgebreek. 2016 se kersverrigtinge het in ons huis op 24 Des. om 15:00 begin.

Die hoenderboudjies vir die voorgereg was nog nie eers in nie, maar die kersmaal het in alle erns in paaiemente begin en soos alles gaar geword het, het ons stuk-stuk fees gevier en vroeg teen die  26ste was daar net beentjies oor.

Moet nooit se jy kan nie met ‘n 20 liter oondjie ‘n feesmaal kook nie. Enigiets is moontlik as die lug gevul is met heerlike geure en die harte vol vreugde is. Geseende 2017 vir ons almal!

 

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button