Bosveld NewsNews

Pa- en dogterspan nie bang vir ‘n slang nie

Terwyl die meeste pa’s en dogters ‘n gemeenskaplike liefde vir sport of die natuur deel, deel Pieter Swanepoel en sy 15-jarige dogter Shané die buitengewone liefde vir slange.

MOKOPANE – Pieter, ‘n plaaslike slangkenner, en Shané het Dinsdag by Bosveld se kantoor met ‘n reuse 1,4 m wipneuskobra, wat hulle by ‘n inwoner se huis gevang het, kom aanklop.

Die gemiddelde lengte van dié slangspesie is 1,2 tot 1,9 m, maar wipneuskobras van so lank as 2,6 m is al opgemerk.

Beide Pieter en Shané vertel met groot bewondering dat die wipneuskobra vir hulle een van die mooiste slangspesies is, maar dat dié slang uiters gevaarlik is, is nie te versmaai nie. Die slang se gif is neurotoksies en val die senuweestelsel aan.

Volgens Pieter moet teengif toegedien word in die geval van ‘n pik en in meeste gevalle word die slagoffers van ‘n wipneuskobra vir 32-uur op ‘n hart-en-longmasjien gesit.

Pieter meen die ongewenste gas was heel moontlik agter ‘n padda aan toe hy in die motorhuis van die inwoner beland het. Hy vertel verder dat hulle hom in ‘n veilige gebied gaan vrylaat.

Dié wipneuskobra is deur plaaslike slangkenner, Pieter Swanepoel by ‘n inwoner se huis gevang.
Dié wipneuskobra is deur plaaslike slangkenner, Pieter Swanepoel by ‘n inwoner se huis gevang.

Terwyl Bosveld se personeel vol vrees vanaf ‘n veilige afstand die slang beloer het, het Shané nie ‘n bang haar op haar kop nie en neem sy ewe rustig ‘n spogfoto. Shané sê ten spyte van die feit dat sy ‘n groot slangliefhebber is, bly sy versigtig as dit by die hantering van die slange kom. “My pa sê altyd jy moet nooit jou vrees vir slange verloor nie want dan maak jy noodlottige foute,” vertel sy. Shané het haar eerste huisslang op die jong ouderdom van 10 gevang en onder die wakende oog van haar pa het sy al menige slange, onder meer die wipneuskobra, help vang. Sy sê ook dat sy na skool graag die passie wil voortsit en dat sy dit selfs as ‘n beroep oorweeg.

Pieter rig ‘n versoek aan die gemeenskap om nie slange dood te maak nie, maar om hom eerder te kontak om die ongewenste kuiergas te kom verwyder. Inwoners kan Pieter by 082 336 6200 kontak.

Lees meer:
Dié reus sal haarself tuismaak in Polokwane

Slange kom kuier in lente

 

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button