Bosveld NewsCrimeNews

Drie wit leeus vergiftig, vermink buite Mokopane

[NIE VIR SENSITIEWE KYKERS NIE] Die leeus is met Temik, 'n plaagdoder, vergiftig

MOKOPANE – Drie wit leeus is op ‘n wildsplaas buite Mokopane kort voor Kersfees met Temik, ‘n plaagdoder, vergiftig. Een is onthoof en sy pote afgesny, vermoedelik vir moetie.

Volgens Mike Fuchs, die eienaar van die plaas en sy seun Zanru wat saam met hom boer, is stukke vergiftigde hoendervleis op die toneel aangetref. Hy het gesê dat die stropers gepoog het om vyf leeus, drie wyfies en twee mannetjies wat in twee aparte hokke was, te vergiftig.

Fuchs sê verder dat twee mannetjies en ‘n wyfie daardie aand gevrek het. Zanru het die volgende oggend dr. Henk Visser se hulp ingeroep vir die behandeling van die tweede wyfie.

Zanru sê dit het die leeu drie dae geneem om ten volle te herstel. Die derde wyfie het nie van die vleis geëet nie en het ongedeerd daarvan afgekom.

Die stropers het gevlug voordat hul enige ledemate van die ander twee leeus kon afkap.

Die verdagtes het na bewering die elektriese heining op die buurplaas geknip en so toegang tot Fuchs se plaas verkry.

Fuchs boer al vir die laaste 20 jaar met leeus waarvan vyf op sy plaas buite die dorp is en hy sê dit is die eerste keer dat so iets met een van sy leeus gebeur. “Dit is hartverskeurend en ek hoop die boosdoeners word vinnig in hulle spore gestuit,” sê hy. Volgens hom duur ‘n deeglike ondersoek voort.

Die voorval geskied nadat meer as ‘n tiental leeus verlede jaar in Limpopo vergiftig en onthoof is, dié is egter die eerste voorval wat in die Mokopane omgewing aangeteken is.

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button