BlogsOpinion

Tyd en getye

Te midde van . . . . My oupa het altyd gese: “Time and tide waits for no man!”

Dis so waar, want of jy moeg geploeg is of opgewonde en vol afwagting, die gety kom in volgens die stand van die maan en die horlosie tik die sekondes af om minute en ure en dae en jare vol te maak.

Ten spyte van al die wetenskapsfiksie het die mens nog nie ‘n manier gevind om tyd te spaar of terug te draai nie. Jy het bloot jou oomblik en as jy hom nie aangryp nie, is dit verby.

Onthou jy nog hoe jy as kind uitgesien het na jou verjaarsdag, vakansietye, na Kersfees? Die jaar het soos ‘n ewigheid gevoel totdat dit weer tyd was vir kersklokkies en blink liggies in die winkels. En Desember was maande lank!

Nou is Desember sommer net na Februarie en hy het net tien daggies wat almal te kort is! Dan kla mense nog oor kersgeskenke en groot etes. “Kom ons braai sommer!”

Agge nee! Tyd stap aan, of jy nou braai of ‘n heerlike drie-gang maaltyd maak. Die 26ste Desember kom, al het jy die 25ste ook net gesit en TV kyk soos die res van die naweek.

Wat is anders? Mense kerm oor die lewe verbyvlieg, al hoe vinniger soos jy ouer word. Maar vir kinders is dit steeds ‘n wonderlike wereld. Dis net goeie herhinneringe wat die een dag van die ander onderskei. Dalk is die verskil nie wat jy doen of nie doen nie, maar die herhinneringe wat jy skep. Dink aan al die dinge wat jy kan onthou van jou kinder-kersfeeste. Was dit die liggies en blinkgoed aan die boom, of oom Jan wat agter die wolbaard lag, of Ouma se skaapboud en kerspoeding waaraan mens nog drie dae moes eet?

Waarom doen ons nie die Kersfees iets onvergeetliks nie? Bak ‘n slag ‘n kalkoen, nie omdat dit ‘n Europese tradisie is nie, maar om ouboet se gesig te sien as jy vra vir die boudjie! Steek geskenkies weg tot Kersoggend, nadat jy melk en koekies vir kersvader uitgesit het. Verras die gesin en gaan kerk toe om vir ‘n slag die Blye Boodskap te hoor. Of lees die kersverhaal om die kersboom. Gaan besoek iemand wat jy weet alleen sal wees. Soveel ouer mense se kinders is deesdae iewers in die vreemde. ‘n Alleen-kersfees is sekerlik een van die hartseerste dinge, is dit nie? Doen as gesin iets vir iemand anders. Eet lekker, gesels, lag en verheug jouself in die koms van die Verlosser. Dis mos iets om oor fees te vier.

Mag 2016, hoe lank of hoe kort hy ookal voel, vir ‘n onvergeetlike Kersfees sorg! Geseende Kersfees, vrede en welbehae en voorspoed vir die Nuwe Jaar!

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button