Bosveld NewsLocal NewsNews

Man van staal lei HPP vorentoe

Die nuwe man aan hoof van Hoërskool Piet Potgieter (HPP) se skip is 'n raakvatter, skrik nie vir uitdagings en rol self die moue op met sy kreatiewe inisiatiewe.

MOKOPANE – Daarvan getuig die uitstekende werk wat Jimmy Steele van 2014 tot Januarie vanjaar nog gedoen het as waarnemende hoof van Westenburg Secondary School in Polokwane. Die skool wat op sy knieë is weens te min onderwysers, ‘n gebrek aan skoolboeke en aan fondse, het gedy onder sy bekwame leiding.

Nie net het die onderwysers en leerders in die tyd hande gevat om die skool van ondergang te red nie, maar die gemeenskap het ywerig ingespring en gehelp met borgskappe. Steele het hoop gebring deur ‘n akademiese atmosfeer te skep, tradisies in te stel, ‘n skoolvlag te ontwerp wat gehys is en spanbousessies vir die onderwysers gehad waar hulle saam ‘n naambord geverf en vervang het.

Hy het ook stukkende meubels en slotte herstel en al die uitheemse bome uitgehaal en dertig inheemse bome op die skoolterrein geplant.

‘n Toiletpapier krisis los hy vinnig op met ‘n projek waar leerders in klasverband papier insamel en meeding het om te kyk wie die hoogste toring kan bou.

Steele het ook nie gehuiwer om die polisie te nader om booswigte in die skool vas te vat nie. Op sosiale media het die leerkragte, ouers en leerders net lof vir Steele se harde werk en inisiatiewe, en in Bosveld se susterkoerante in Polokwane is hy deurgaans geprys.

Die Department van Onderwys het verledeVrydag bekendgemaak Steele is van Januarie 2017 die nuwe hoof van HPP. Dit volg nadat ‘n deeglike proses gevolg is om ‘n geskikte kandidaat te vind.

Die pos is wyd geadverteer en die beheerliggaam van die skool het dit toe reeds duidelik gemaak hulle is opsoek is na ‘n man wat self diep voetspore gaan trap nadat Piet Pot se geliefde hoof, Jas Hansen, einde verlede jaar afgetree het.

Steele wat in Januarie die leisels by Westenburg neergelê het, was tot met sy aanstelling as HPP se nuwe hoof ‘n onderwyser by Pietersburg Hoërskool. Sy vakgebied is Afrikatale, Afrikaans en Lewensoriëntering.

Hy het aan Bosveld vertel hy is verskriklik opgewonde en sien daarna uit om die skool te lei. Hy gaan ook ‘n goeie pad saam met Bosveld stap.

“Ek is 30 jaar in die onderwys en dit is nou my beurt. Ek glo in ‘n holistiese benadering. Balans is belangrik en daar is nie onderskeid tussen sport en kultuur nie, maar akademie is hoof prioriteit.”

Steele se vrou is ook in die onderwys betrokke en sy seun is ‘n geoktrooieerde rekenmeester wat eersdaag in Kanada gaan begin werk. Sy dogter is ‘n mediese dokter in Port Elizabeth.

Jaco van der Wateren wat die onderhoudsproses namens die skool gelei het en tans saam met sy gesin aan die kus uitspan, het aan Bosveld gesê: “Steele het goeie getuigskrifte en ons is opgewonde. ‘n Deursigtige proses is gevolg en onderhoude is gevoer waarna ons aanbeveling van die geskikte kandidate na die departement is. Die departement het hulle besluit Vrydag amptelik bekendgemaak en die belangrike rolspelers is ingelig dat Steele aanboord kom.”

“Dit is nou die einde van die jaar en baie van die onderwysers is besig met merk van vraestelle en ander take wat dit moeilik maak om almal byeen te kry. Die leerders het ook klaar eksamen geskryf en gaan die week net hulle rapporte afhaal. Steele sal dus in Januarie met die aanvang van die nuwe skooljaar verwelkom word,” het Van der Wateren gesê.

redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

 

Related Articles

Back to top button