Bosveld NewsCrimeNews

‘Sy is ‘n juweledief en hoort agter tralies’

Simoné van Wyk (27) staar 13 klagtes van diefstal in die gesig nadat daar beweer word dat sy oor 'n tydperk van 12 maande, juwele tot die geskatte waarde van 'n half miljoen rand vervreem het.

MOKOPANE – “Sy is ‘n dief en hoort agter tralies!” Hierdie is die woorde van tien ontstoke vroue wat Dinsdag die Mokopane Streekhof se banke vol gesit het in afwagting om teen die gewese eienaar van Die Goudsmit te getuig.

Simoné van Wyk (27) staar 13 klagtes van diefstal in die gesig nadat daar beweer word dat sy oor ‘n tydperk van 12 maande, juwele tot die geskatte waarde van ‘n half miljoen rand vervreem het. Sy het vroeër vanjaar onskuldig op die klagtes gepleit.

Jeanette van der Merwe, een van van Wyk se klante wie se juwele na bewering deur die skoonmaker by Die Goudsmit gesteel is, het gedurende haar getuienis Dinsdag gesê: “Ek het vir 20 jaar van die destydse Die Goudsmit juwelierswinkel gebruik gemaak en het altyd die personeel ten volle vertrou. Daarom was dit vir my sleg toe Van Wyk aan my noem dat twee van my 9 karaat goue halssnoere, ter waarde van R74 000, na bewering deur die ‘skoonmaker’ gebuit is.” Van der Merwe getuig verder: “Van Wyk het aan my vertel dat sy nie die kluis deur kon toe maak nie omrede sy te maer is.

Volgens van der Merwe het sy van Wyk se stelling rakende die vervreeming van haar halssnoere aanvanklik geglo en daarom het sy ook ‘n pêrelarmband aan haar gegee vir herstelwerk. “Ek was egter uiters geskok toe ek my armband wou gaan optel en voor dooiemans deur te staan gekom het”.

Van der Merwe sê dat sy tot op hede nog geen vergoeding ontvang het of weer van van Wyk gehoor het nie. Nicky Bosman, Van Wyk se prokureur, het Magistraat Gerard Pretorius se aandag daarop gewerp dat hulle steeds in besit van ‘n sak vol juwele is en dat die staat hom nooit daarna gevra het nie.

Tot almal se verbasing het van Wyk ‘n pêrelarmband aan Van der Merwe oorhandig en beweer dit is haar ‘vermiste armband’ waarna Van der Merwe gesê het dat dit beslis nie haar armband is nie.

Al tien vroue het getuig waarna Magistraat Pretorius die saak na 1 Februarie vir vonnis uitgestel het.

lionel@nmgroup.co.za

Related Articles

Back to top button