Local NewsNews

Maak seker jou voertuig is reg vir die lang pad

"Maak seker dat jy instansies of vriende se nommers het wat jou kan bystaan in tye van nood.”

POLOKWANE – Dit is vakansie tyd en terwyl baie gesinne verkies om by die huis te ontspan is daar duisende meer wat op die pad gaan wees. Review het met Sterretjie Beukes van 24 Hour truck Repairs (cars, bakkies and trucks) gesels oor hoe om seker te maak jou motor is veilig vir die lang pad.

“Daar is spesifieke dinge waarna ‘n mens moet kyk. Meeste mense gaan staan langs die pad met ‘n pap wiel, sonder ‘n spaarwiel. Of hulle het ‘n dompkrag of moersleutel wat nie op hul wiele pas nie,” vertel hy.

Volgens Beukes is dit belangrik om na die volgende om te sien:

          1. Wiele

  • Maak seker die banddruk op jou wiele is volgens die spesifikasies van die voertuig.
  • Jou band moet ‘n minimum van 1mm in totale loopvlak op hê.
  • Jou spaarwiel moet in goeie kondisie wees.
  • Die domkrag moet die vrag kan lig en dra.
  • Die wielmoere moet op die voertuig pas.

          2.  Olie en smering

  • Maak seker dat die enjin, ratkas en olie volgens die spesifikasies van jou motor is.
  • Kyk ook na ewenaarsolie, remvloeistof en kragstuur olie.

          3. Verkoeling

  • Maak seker daar is geen lekasies nie.
  • Maak seker die waaierband is nie gekraak of geskeur nie.
  • Sorg dat daar geen obstruksies in die verkoeler is nie.

          4. Elektries

  • Sorg dat die hoofligte op die regte verstelling is, nie te hoog nie en ook nie te laag nie.
  • Maak seker al die agterligte werk. Dit sluit flikkerligte en remligte in.
  • Maak seker die nommerplaatlig werk.
  • Dit is baie belangrik dat jy seker is die noodligte werk.
  • Jou toeter moet in ‘n werkende toestand wees.
  • Maak seker jou ruitvieërs in goeie, werkende toestand is.
  • Maak seker daar is geen lekasies in die uitlaatstelsel nie.
  • Maak seker al die veilgheidsgordels is heel en dat al die knippe werk.

          5. Noodhulptassie

  • Sorg dat daar ‘n klein gereedskapskas in die motor is.
  • Sorg dat daar ‘n nood waaierband is.
  • Maak seker dat daar ekstra remvloeistof, enjin olie, 5L water en ‘n skoon lap in die motor is.
  • Sorg dat daar ook ‘n sleeptou, klampe en jumper kabels is, asook ʼn mediese noodhulptassie.

“Sorg dat jy altyd ‘n spaar waaierband in die motor het. Op warm dae gaan staan verskeie motors as gevolg van oorverhitting. Maak ook seker dat jy instansies of vriende se nommers het wat jou kan bystaan in tye van nood.”

maretha@nmgroup.co.za

Related Articles

Back to top button