Bosveld NewsNews

Gesonde eetgewoontes kern van gewigsverlies

Volgens Imogen van Wyk, plaaslike fiksheidsafrigter, maak die regte eetgewoontes 80% van jou sukses uit.

MOKOPANE – Desember is om die draai en baie van ons, jonk of oud, kla oor die sellulietmerke wat soos ‘n lemoenskil op ons heupe of maag sit.

Ons soek om elke hoek en draai na die volgende dieetpil of oplossing vir hierdie nare situasie en wil selfs elke spieël in die asblik gooi. Hoewel dit bewys is dat die woord “dieët” nie gebruik moet word nie, omdat dit jou gemoed laat voel asof gesondheid ‘n straf is, is dit beter om eerder ‘n gesonde leefstyl aan te kweek.

Volgens Imogen van Wyk, plaaslike fiksheidsafrigter, maak die regte eetgewoontes 80% van jou sukses uit. “As jy werklik ‘n gesonde lewe wil leef moet jy nie kyk na ‘n ‘quick fix’ nie. Ek glo glad nie daaraan nie, want sodra jy weer ophou met die plan tel jy dubbel die gewig op. Wat ek sal voorstel is om gesondheid deel van jou lewensmotivering te maak.”

Fiksheidsinstrukteur en gimnasium eienaar, Wikus Jansen van Nieuwenhuizen, het aan Bosveld vertel dat hy al vir sowat 10 jaar in die gimnasiumbedryf werk en só bly hy ook lekker fiks.

Sy raad aan iemand wat ‘n gesonde leefstyl wil handhaaf is om ‘n goeie balans tussen eet en oefen te probeer kry. “Ek sal sê dat as jy wel voor Desember bietjie van die vetjies wil afskud moet jy oefening doen wat ‘n kombinasie van kardio en gewigte is. Die kardio deel help meestal met die verbrand van vet en om die spiere op te warm, terwyl die gewigte help om die spiere te bou. Dit help ook vet verbrand.”

Fatima Bhyatt (53) is nie net ‘n jogakenner nie, maar ook ‘n plaaslike spininstrukteur.

Fatima, ‘n ma van vier tieners, is perdfris en gesond weens haar gesonde leefstyl wat deel is van haar daaglikse roetine.

Sy vertel gesondheid moet deel van jou dag wees soos tandeborsel in die oggend. “Wees aktief en maak seker jy doen iets waarvan jy hou. As jy nie van hardloop hou nie, moet dit dan nie by jou oefenroetine insluit nie. Kry ‘n oefening waarvan jy hou want so maak jy dit makliker vir jouself om by jou roetine te hou. Bly weg van geprossesseerde kosse af en eet liewer iets wat natuurlik gekweek is. Eet om te lewe, moenie lewe om te eet nie.”

Sy meen as jy gewig wil verloor, moet jy nie na die skaal kyk nie. Wees eerder aktief en kyk wat die resultate op die ou end gaan wees, want dit sal jou verbaas.

lionel@nmgroup.co.za

Related Articles

Back to top button