BlogsBosveld NewsNewsOpinion

Snuffel-snuffel gerus rond vir winskopies

Uit Afrika is daar altyd iets nuuts.

Limpopo het nou sy eie ‘Doom’ profeet en ek dog nog al die jare dit word met ‘n “e” gespel.

Blykbaar het die in-die-gesig-gespuite Doom waaroor koerante die afgelope week so ‘n bohaai opgeskop het, sommer dadelik ‘n gemeentelid van die veronderstelde profeet van maagkanker genees.

Ek kan aan ‘n paar ander dinge dink wat Doom permanent kan genees soos die behoefte om asem te haal. Ongelukkig gaan dit geen uitwerking op onbekwane rugbyafrigters en halfdood gekwesde bokke hê nie.

Verneem ek mos betroubaar dat daar drie stoere rugbyvriende hier ter plaatse is wat verlede Saterdag so oortuig was dat die Bokke sou verloor, dat hulle ‘n Italiaanse ete vir na die wedstryd aangelê het.

Daar was glo spaghetti bolognaise, Italiaanse rooiwyn (wat so goed geproe het soos die Azurri gespeel het) en nog wat. Minstens was hulle toe nie in die kos teleurgesteld nie.

Vrydag, 25 November, is dit weer Swart Vrydag – tradisioneel die dag waarop besighede vir hulself begin werk nadat hulle alle ander finansiële verpligtinge soos onder meer SARS, lone en versekering deur die jaar afgewerk het.

Dis ‘n Verenigde State gebruik waarvoor mense van voor middernag af al toustaan vir winskopies en wat nou ook na SA toe oorgewaai het.

Die gebruik het wel oorgewaai hierheen, maar ek is nog nie so seker van die winskopie deel daarvan nie omdat mens elke dag winskopies sommer hier onder jou neus kan raakloop as jy net bereid is om bietjie te snuffel en rond te loop.

Sluit ek myself mos Maandag uit my eie huis uit en Beter Helfte is vir die dag Polokwane toe met die spaarsleutel.

Leen toe maar ‘n sleutel by buurvrou om uit die kompleks te kom en vaar die strate in om die tyd te verwyl.

Ontdek in die proses ‘n paar kleiner besighede in veral Nelson Mandelarylaan wat mens moontlik van tyd tot tyd by sal wil inloer, mits jy ongeskonde by al die sypaadjiesmouse kan verbykom. As ‘n klein groentewinkeltjie daar R7,50 vir ‘n kg gesonde piesangs vra, hoe kom die meeste supermarkte in die dorp by meer as R15 uit?

Gaan koop vier groterige soetrissies (greenpeppers) vir byna R30 by ‘n groot winkel, of betaal R20 vir ‘n karton met twee lae kleiner soetrissies in, minstens 24, by van hierdie kleiner winkels.

Ek weet nie eers wat vis by die grotes kos nie, maar daar was heel vis uit Namibië, reukloos, ferm en groot genoeg vir ‘n gesin van vier tot ses mense vir R20 per kg. ‘n Sekere slaghuis se beestert staan op R65 perkg en hul ‘ribeye’ biefstuk is nou R70. Ek wonder wie het besluit dat ‘fillet’ die aaklige Afrikaanse naam beeshaas moet kry?

Related Articles

Back to top button