Bosveld NewsNewsSchools

Eksamenskok vir HPP

Gr. 10- en 11-leerders wat tans met hul eindeksamen by Hoërskool Piet Potgieter (HPP) besig is, het Dinsdagoggend ‘n verrassing gekry toe daar skielik voor die aanvang van hulle eksamen aangekondig word hulle lê ‘n departementele vraestel af .

MOKOPANE – Die leerders is ook in kennis gestel dat die res van die eksamenvraestelle wat nog geskryf moet word, vanaf die departement is.
Dit beteken dat die hele jaar se werk geleer moet word en nie net die afgebakende werk wat voor die aanvang van die eksamen aan hulle gegee is nie.
Van die leerders het hulle misnoeë te kenne gegee en Bosveld het met HPP Waarnemende Hoof, Cas Badenhorst, gesels wat daarop gewys het dat HPP ‘n groen skool (presterende skool) is en volgens beleid geregtig is om sy eie vraestelle op te stel.
“Voor die eksamen is met die kringbestuurder ooreengekom om ons eie vraestelle te skryf omdat ons nie die versekering het dat daar vir al die vakke vraestelle sal wees nie, en of daar hoegenaamd Afrikaanse vraestelle sal wees nie. Daar was ook nie versekering dat daar genoeg vraestelle ontvang sal word nie en die skool wou nie die risiko loop om elke dag inderhaas ekstra vraestelle te moes afrol nie.”
Badenhorst sê op Maandag, 7 November het die departement die skool besoek en HPP verplig om die departementele vraestelle te skryf. Op Dinsdag, 8 November, het die gr. 11 leerders die departementele vraestelle vir Engels eerste addisionele taal geskryf nadat die skool nog 90 vraestelle moes afrol, maar die leerders het wel die skool se vraestel vir Engels huistaal geskryf.
“Die personeel is goed gekwalifiseer en die skool lewer gehalteonderrig. Die hele sillabus is met al die gr 10 en 11-leerders behandel en daarom is die skool vol vertroue dat hulle goed sal doen met die departementele vraestelle.”
Badenhorst sê hy sal die skielike omswaai met die department opneem en in gesprek tree waarom die leerders in die middel van hul eksamen departementele vraestelle moet afhandel. “Die skool is verbonde aan die department en daarom moet die skool die reëls nakom. Geen leerder sal enigsins benadeel word deur hierdie besluit nie.”
Die Woordvoerder van die Departement van Onderwys, Dr Naledzani Rasila, sê: “Die rede vir die skielike verandering hangende die eksamenvraestelle was slegs om ‘n hoë en eweredige standaard in al die skole te handhaaf. Ons het ‘n ooreenkoms bereik om al die leerders gesamentlik te ondersteun en help voorberei vir toekomstige eksamens.
“Ek persoonlik dink dit was ‘n goeie besluit om leerders die departementele eksamen te laat aflê omdat daar skole in Limpopo is wat swaar trek wanneer dit kom by die opstel en voorbereiding van eksamens wat aan al die nodige vereistes voldoen.
“In sommige gevalle was daar bevind dat van dié vraestelle van ‘n laer standaard was en dus onvoldoende was om die leerders se kennis te toets. Ons berei leerders voor vir hul gr. 12-jaar en doen ons bes om hulle vir die res van hul lewens voor te berei”.
lionel@nmgroup.co.za

Related Articles

Back to top button