Bosveld NewsLocal NewsNews

Gastehuis ‘n lus vir die oog

Met Anlou Gastehuis se sewe ruim slaapkamers, pragtuine, groot swembad en heerlike kos op die spyskaart is gaste verseker van top klas akkommodasie.

LIMPOPO – In die plaaskombuis van haar ouerhuis in die Wes-Transvaal het twee van Ansie Lourens se passies ontstaan naamlik mense en kos en dit is ook daar in haar ma se pragtuine wat die tuingogga haar gebyt het.

Ansie is die eienaar van die gewilde drie-ster Anlou Gastehuis in Kobaltstraat. Nadat die bekende Voorkomskonsultant, Francois Louw, Vrydagaand daar oornag het en slegs met lof van dié gastehuis gepraat het, het Bosveld by Ansie gaan aanklop. Reeds met die intrapslag het ek verstaan waarom mense sê dit is ‘n ware lushof vir die oog. Die tuine is lowergroen en die gastehuis met sy antieke meubels, prag skilderye en vase vol blomme skep ‘n gesellige atmosfeer.

Ansie en haar man Jan het in 1978 na Potgietersrus (Mokopane) verhuis nadat Jan die bekende Havenga Droogskoonmakers oorgekoop het. Ansie, wat versot is op tuinmaak, en haar suster het in 1996 hulle groenvingers ingespan en Ansie Lourens Landskap op die been gebring.

“Ons het dit vreeslik geniet en met ‘n paar spogtuine gepronk, maar toe my suster in 1996 na Pretoria verhuis het ons haar huis oorgekoop en in Anlou Gastehuis omskep. Die gastehuis bied my die geleentheid om al drie my passies naamlik, mense, kos en tuinmaak, ten volle te geniet,” sê Ansie.

Haar hande staan vir niks verkeerd nie, want nie net sorg sy dat alles by die gastehuis seepglad verloop nie, maar sy berei ook daagliks ‘n koningsmaal vir die gaste voor. Boerekos is haar forté en almal in die dorp weet tannie Ansie mag maar kook.

Op die tafel in die ingangsportaal lê ‘n gasteboek en blaai jy daar deur is daar ‘n hele string bekende name wat al hier oornag het. Van die bekende pianis, Rocco de Villiers, die aktrise Liz Meiring tot die gewilde sanggroep Adam. Ansie sê dit is vir haar heerlik om die bekendes te ontmoet en dat hulle gewoonlik haar maklikste gaste is.

Anlou Gastehuis is al ‘n tweede huis vir meeste besoekers, waaronder ‘n Duitse-toergroep elke ses weke hier oorslaap. Ansie meen hulle is al deel van die familie.

Jan het by ons kom aansluit en waar hulle op die rusbank sit is dit duidelik hulle vorm ‘n gedugte span. Hulle is al vir 45 jaar getroud en spog met vier kinders en 11 kleinkinders. “Die geheim tot die sukses van ons verhouding lê in die feit dat ons boesemvriende is, ons doen alles saam,” sê hulle.

Ansie sê wanneer sy soggens die ontbyt aanmekaar slaan, maak Jan die koffie en gesels ‘n hond uit ‘n bos met die gaste.

“Jan help my ook wanneer gaste saans laat arriveer – hy is ‘n ware staatmaker.”

Wanneer ek Jan vra of hy Ansie se liefde vir tuinmaak deel, glimlag hy en sê: “Ek bewonder eerder haar mooi tuin.” Ansie se tuine is ook bekend in die dorp, want hier word daar graag trou- en matriekafskeidfoto’s geneem. Vir Ansie is alle blomme prentjiemooi, maar sy sê die Amarilla’s wat die tyd van die jaar blom is enig in sy soort. Met die hoë temperatuur en lae reënval raai sy Bosveld se lesers aan om vetplante te plant. Sy sê vetplante en ‘n paar spoelklippe kan vinnig ‘n vaal hoekie vrolik opkikker.

Met Anlou Gastehuis se sewe ruim slaapkamers, pragtuine, groot swembad en heerlike kos op die spyskaart is gaste verseker van top klas akkommodasie.

Vir meer inligting stuur Ansie ‘n e-pos na anlouguesthouse.co.za.

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

Related Articles

Back to top button