Local NewsNews

Oom Vossie is steeds fiets, fiks en vol lewe op 90 jaar

Om op die ouderdom van 90 steeds fiets, fiks en gesond te wees is nie vir almal beskore nie en Review het die geleentheid gehad om meet een van die stad se inwoners wie dié mylpaal behaal het, te gesels.

POLOKWANE – Met ons aankoms by Oom Vossie Vorster se huis by Ons Tuiste sien ons ‘n oop voëlkoutjie op sy sitkamertafel terwyl sy budgie, ewe parmantig, saam met hom op die stoel sit en koerant lees.

Vrolik spring Oom Vossie op om ons te groet en maak verskoning omdat hy besig is om wasgoed te was nadat hy die vorige dag te besig was om daarby uit te kom.

“Gister was my verjaarsdag en so baie mense het kom kuier om my geluk te wens. Dit was wonderlik om lekker saam met almal te kuier,” vertel hy.

Toe ons hom vra hoe oud hy nou is, dink hy so ‘n oomblik na en skerts: “38”, gevolg deur ‘n uitbundige lag.

“Ek spot sommer, ek het Maandag my 90ste verjaarsdag gevier,” sê hy.

“Ek is ryklik geseën. Alhoewel ek op chroniese medikasie is, is ek glad nie sieklik nie en het ek ook nie werklik fisiese kwale nie.”

Oom Vossie is in 1926 in Aliwal-Noord gebore. Sy pa is kort voor sy sesde verjaarsdag oorlede en sy ma het ‘n paar jaar later weer getrou waarna hulle na die Vrystaat getrek het.

“My stiefpa het besluit ek moet uit die skool uit en gaan werk, nog voordat ek my gr. 8 geslaag het. Ek het vir ‘n tyd lank loswerkies gedoen en het later by die Spoorweg werk gekry waar ek vir 37 jaar skofte gewerk het,” vertel hy.

Sy eerste huwelik het gefaal omdat sy werksure te veeleisend was. Daarna het hy vir ‘n paar jaar weermagopleiding ondergaan waarna hy weer getrou het.

Hierdie huwelik het wel langer gehou as sy eerste een en hulle het drie kinders gehad. Sy vrou is ‘n paar jaar gelede dood.

Vra ‘n mens hom wat sy geheim is om so oud te word, sê hy: “Dit is als net God se genade. Glo en vertrou in God en ken Hom in alles wat jy doen. Hy sal oor jou lewe beskik”.

maretha@nmgroup.co.za

Related Articles

Back to top button