BlogsOpinion

Die kuns van verloor

Te midde van: Niemand hou van verloor nie. Dis verseker. Party mense kan dit glad nie doen nie.

Hulle verloor hulle humeur, hulle waardigheid en hull lojaliteit. Dis gewoonlik vir sulke mense wat wen alles is. Dis of alles of niks! Jy het mos al daai ouens langs die atletiekbane en sportvelde gehoor: “Wen is ‘n wen en tweede is niks!” Dis daardie kompeterende gees wat van mense aanhouers en uithouers maak, wat hulle genoeg moed gee om eenvoudig aan te hou oefen tot hulle die hoogste hoogtes bereik. Ons het hulle verseker ook nodig, anders wat Mount Everest nooit geklim nie en die Suidpool nooit ontdek nie.

Maar verloor is vir hulle die einde van die wereld. Hulle eie waarde word daaraan gekoppel en daarom hang hulle selfbeeld daarvan af. ‘n Mens kan verstaan dat dit vir hulle ‘n baie ernstige saak is. In spanverband is dit nog erger. Verloor moet altyd iemand se skuld wees en daarom moet iemand daarvoor blameer word.

Maar die lewe is nie net vir wenners nie. In enige spel is daar ‘n wenner en ‘n verloorder en in individuele sport partymaal sommer ‘n baan vol tweede en derde en vierde en laaste plekke. Nie almal kan wenners wees nie.

Antjie Krog het eenmaal geskryf, sy bid vir haar kinders net middelmatigheid. Ek stem. Die enigste ding waarin ek hoop my kinders wenners is, is in die liefde.

Net so min as wat mens ‘n gebore wenner is, is jy nie ‘n gebore verloorder nie. Dis iets wat ‘n mens met die tyd saam leer. Nie dat ek wil se mens moet leer verloor nie, darem nie. Maar ‘n mens moet leer om verloor te kan hanteer.

Kyk nou maar na rugby. Baie mense het die afgelope tyd vir die Leeus begin skree omdat hulle vir ‘n ruk lank nou aan die wenkant was. Skielik is mense bly oor die Rooibontes. Hulle maak grappies en skryf liedjies. Dis in die mode om ‘n Leeu te wees. Aan die ander kant ken ek Blou Bulle en Sharks wat sommer ophou rugby kyk het. Maar, soos my oom altyd gese het, Bulle hou nie van verloor nie.

En toe gebeur die naweek se rugby. Na die leeus se vreeslike pak slae, kry ek skielik allerhande betuigings van simpatie, party met so ‘n stekie van lekker-kry net te duidelik.

Wen sou, ek moet erken, lekkerder gewees het. Maar ek is amper verlig. Jy weet mos wat hulle oor die geharde Transvaal-ondersteuners se: “Om vir Transvaal te skree, is soos om ‘n broer in die tronk te he, jy praat nie oor hom nie, al is jy nog lief vir hom.” Dis in hierdie swaar tye dat ‘n mens uitvind waar ware lojaliteit le. Dis wat ek glo belangrik is.

Dis in die swaar tye wat die skape van die bokke of die Leeus/Bokke/Springbokke van die draadsitters geskei word. Dit gaan alles oor lojaliteit. ‘n Mens se span is nie soos jou week se gunsteling roomys nie. Jy verander dit nie sommer so nie. Ek glo nie daaraan om sommer so oor en weer rond te spring nie. Jy kies jou span en jy staan by hulle. Dis net soos ‘n mens se land.

Ek kyk nie meer gereeld krieket nie. Ek herstel nog van my Hansie-skok. Maar ek skree nie vir ‘n ander span as die Proteas nie.

Dis die dat ek nie die All Black-ondersteuners met SA paspoorte nie kan verdra nie.

Al het my span verloor, kan ek met trots nog my kop hoog hou, want net soos ek, is daai arme leeutjies ook nie volmaak nie. Dis met trots dat ek nou weer kan wys, al is verloor nie lekker nie, wys dit wie lojaal is, wie jou vriende is en op wie jy deur dik en dun kan staat maak.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button