Bosveld NewsLocal NewsNews

Jong ovaalbaan-renjaer sterf

Motors en spoed Louis Ruytenberg (jnr.) se passie.

MOKOPANE – Louis was op sy gelukkigste agter die stuur van sy helderpienk ‘blik op wiele’, maar op 10 September het hy vir die laaste keer op die Ovaalbaan sy staal gewys.

Louis (19), ‘n bekende motorrenjaer, is in die vroeë oggendure van Sondag oorlede nadat hy vermoedelik agter die stuur van sy bakkie aan die slaap geraak en beheer oor die voertuig verloor het. Die noodlottige ongeluk het gebeur nadat hy en sy gesin Saterdagaand saam ‘n 21ste verjaardagparty in Polokwane bygewoon het.

Louis se ma, Karien, vertel hartseer: “Ek en my man, Louis (snr.), asook ons dogter Eliska en jonger seun, Carlo, is laataand huis toe. Louis het later gevolg in sy bakkie.

“Sondagoggend omstreeks 02:30 het my swaer, Bertus, vir ons kom sê Louis het op die ou pad vanaf Polokwane verongeluk. Ons het na die toneel gehaas, maar hy was met ons aankoms reeds dood. Sy bakkie het vermoedelik gerol en hy is uit die voertuig geslinger.”

Louis het saam met sy pa by die familie se onderneming, Walter Staal gewerk nadat hy verlede jaar aan die Hoërskool Piet Potgieter gematrikuleer het. Karien was nog tot onlangs deel van die skool se administratiewe personeel. Sy ma vertel hoe Louis ‘n maand gelede vir haar kom sê het hoe kort die lewe is nadat ‘n skoolmaat, Bennette Riekert, in ‘n motorongeluk dood is. “Min het ons geweet wat wag. Hy was ‘n ywerige renjaer van die Bosveld Wedrenklub wie aan verskeie byeenkomste op die Ovaalbaan buite die dorp deelgeneem het. Hy was ‘n uitblinker in sy blik op wiele en spog met talle trofeë wat hy in die 1660-afdeling verower het. Sy jonger sus, Eliska, het ook vanjaar begin resies jaag.”

Louis het verlede jaar by sy matriekafskeid in sy blitsige renmotor opgedaag en in ‘n onderhoud met Bosveld vertel van sy groot liefde vir dié sportsoort.

Sy ma sê: “Alles voel steeds onwerklik. Sy familie en vriende gaan sy terggees mis. Hy was altyd ‘n bok vir sport”.

Louis is Donderdag vanuit die Volle Evangelie Kerk begrawe.

redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button