Bosveld NewsNews

Sy lag is nou stil

'n Bekende boer van Roedtan en deelnemer aan die vierde seisoen (2011) van die werklikheidsreeks Boer Soek 'n Vrou, is Saterdagoggend in 'n motorongeluk oorlede.

MOKOPANE – Johan van Zyl (58), ‘n bees-en-wildboer en sonneblomolievervaardiger, was verlede Vrydag in ‘n ongeluk op die Blinkwaterpad betrokke.

Sy oudste dogter, Monique Vosloo (27), vertel aan Bosveld: “My pa se sig was belemmer weens ‘n digte stofwolk wat deur ‘n verbygaande voertuig op die grondpad veroorsaak was en hy het toe agter in ‘n sleepwa vasgery”.

Hy is na die Milpark Hospitaal in Johannesburg gehaas, maar het Saterdag aan sy beserings beswyk.

Monique sê haar pa was ‘n boer in murg en been en op sy gelukkigste in sy kakiebroek en vellies.

“Ek kan nie anders as om te glimlag wanneer ek aan hom dink nie want hy het ons altyd laat skaterlag. My pa was uiters geliefd en het mense met sy spontaniteit aangetrek.

“Hy was ‘n rolmodel vir ons drie kinders.”

Sy sê sy sal hom ook onthou omdat hy ‘n bok vir sports was en beslis reuse voetspore agterlaat. Monique bedank almal vir hulle ondersteuning. Van Zyl word Saterdag vanuit die AP Kerk op Roedtan om 10:00 te ruste gelê.

Bosveld se medelye gaan uit na die familie.

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button