Bosveld NewsLettersNewsOpinion

Fees sorg vir kos op tafel

BRIEF: "Dit is met teleurstelling dat ek 'n berig lees in verlede week se koerant dat daar negatiewe gevoelens is oor die Kierieklapperfees en veral oor die ingangsfooi.

MOKOPANE – Ons moet nooit vergeet wat is die doel en die bydrae wat die fees maak tot die gemeenskap. Die fees is die heel grootste inkomste vir die Dienssentrum vir Bejaardes.

Die Dienssentrum verskaf tussen 90 en 160 etes per dag aan bejaardes wat swaar kry. Daar kan hulle ‘n voedsame bord kos kry vir R12. Dit kos R27 om die bord voor te berei. Die +-R30 000 p/m verlies word deur die fees se wins gedek. Daar is ook baie mense wat geld gee en vrugte, groente en vleis verskaf om dit moontlik te maak.

Daar is heelwat mense wat glad nie die R12 kan bekostig nie en hulle word geborg deur goedgunstige inwoners. Daar word elke dag sowat 50 km rondgery om etes af te lewer vir bejaardes wat nie vervoer het nie.

Die bejaardes wat gehelp word, moet ons nooit vergeet nie, is mense wat hierdie dorp opgebou het, boere wat vir ons goeie kos verskaf het en dis mense wat ons geleer het. Ongelukkig het die massiewe styging in die inflasiekoers veroorsaak dat hierdie mense bitter swaar kry.

Nie een van ons het gedink dat pryse so drasties sou styg en ‘n paar dae in ‘n privaat hospitaal kan ‘n mens ‘n hewige knou gee aan jou aftreegeld.

Dink net aan die voordele as jy die fees ondersteun en ‘n kaartjie koop. Ek het uitgevind wat ander dorpe se feeste vra en baie kos tot R170 per persoon en daarby is ons gewillig om vêr te ry om daardie feeste te ondersteun. Kom ons wees meer positief en dankbaar vir die paar mense wat die hele jaar hard werk sonder vergoeding om hierdie fees so suksesvol te kan maak. Ondersteun ons enigste fees en kom ons ondersteun ook plaaslike instansies.

Ek sien mense spandeer meer as ‘n R100 vir ‘n ‘steak’, ry Polokwane toe vir ‘n fliek wat selfs duurder is as jy die totale uitgawe van brandstof, kos en kaartjies in ag neem. Mans ry Loftus toe vir rugby en betaal tot R250 vir ‘n sitplek.

Vir diegene wat ‘n bydrae wil maak, gaan besoek gerus die Dienssentrum op die hoek van Dudu Madisha- en Geyserstraat, of stuur ‘n epos aan die besturuder, Wimpie Engelbrecht by die dienssentrum@lantic.net of skakel 015 491 5747. Onthou vir ‘n R120 per maand kan jy vir tien mense ‘n bord kos koop. Kontant of voedsel donasies sal baie waardeer word.”

Groete

Andy Goetsch

Related Articles

Back to top button