Local NewsNews

Stad treur na geliefde ‘legende’ sterf

Christo van Heerden is verlede Woensdag oorlede.

POLOKWANE – “Hy het nie die stryd teen kanker verloor nie, hy het dit oorwin. Hy is nou waar hy moet wees en heeltemal gesond. Ons het wel ‘n legende verloor,” vertel sy vrou Vallerie van Heerden.

Christo, wie baie bekend is vir sy bydrae tot die eiendomsmark in Polokwane, is laasjaar op 15 Junie deur hulle dogter, Lelanie Coetzee wie ‘n dokter is, met beenmurgkanker gediagnoseer. Hulle het hom saam die laaste paar weke versorg. Hulle sê hy kon in sy eie tyd by sy huis sterf.

“Hy was in die hospitaal, maar ons is die geleentheid gegun om hom eers na Bela-Bela te neem waar hy kon aansterk waarna ons hom na sy eie plaas toe kon neem waar hy altyd op sy heel gelukkigste in die natuur was,” vertel Vallerie.

Christo het tot kort voor sy dood by Seeff gewerk waar hy in 2012 begin werk het na jare lange diens by Emmanuel Konstruksie.

“Christo was ‘n groot natuurliefhebber.

“Hy het op skool reeds begin skiet en was deel van die Suid-Afrikaanse Springbok Skyfskietspan. Hy was ook ‘n professionele jagter en beroepsjagter. Die plaas was sy lewe en hy kon lang ure in die natuur deurbring. Hy was ‘n kranige mes versamelaar,” vertel Vallerie.

Lelanie onthou dat haar pa baie diep en nostalgies was.

“Hy het van alles notas gemaak en was ‘n besonderse mens. Hy sou my soms bel of SMS om my aan iets baie spesifiek, soos byvoorbeeld die dag en tyd van my laaste eksamen, te herinner.

Klein dinge wat ek self nie eers meer kon onthou nie, het hy neergeskryf en onthou.

“Hy het ongelooflik baie mense se lewens aangeraak en het ‘n vreeslike sagte hart gehad. Hy was ‘n liefdevolle mens en ‘n baie diep gelowige, ‘n regte man van God. Ons het baie vrede van bo na sy afsterwe,” vertel Lelanie.

Christo word môre (Vrydag) om 11:00 vanuit die Agapé Gemeente gegroet deur sy geliefdes. Hy laat sy vrou, dogter, skoonseun Lean Coetzee, kleinseun Qeon Coetzee, seun Heinrich van Heerden en toekomstige skoondogter, Bianca Mollentze na.

maretha@nmgroup.co.za

Related Articles

Back to top button