Local NewsNews

Ma benodig hulp na motorongeluk

Doreen Pretorius en haar twee dogters Michke (13) en Elzani (9) was Vrydagaand in 'n motorongeluk betrokke.

POLOKWANE – Die gesin het in Vermikulietstraat gery en wou in Marastraat afdraai na hul huis toe. Hulle moes vir die aankomende verkeer wag en ‘n bakkie het van agter af teen hul voertuig gebots.

Doreen vertel dat Michke se heup ontwrig is tydens die ongeluk en dat sy in geweldige pyn verkeer. “Sy is in traksie en ek moet haar versorg. Sy moet vir ten minste drie weke in die hospitaal bly en alhoewel daar niks gebreek is nie verkeer sy in erge pyn.

Na die ongeluk het ek geen vervoer nie en dit is vir my moeilik om daagliks by die hospitaal uit te kom om haar te help versorg. Ek is nog vir hierdie week met siekverlof na die ongeluk waarna ek weer moet terugkeer werk toe.

“Ek is die broodwinner en kan nie bekostig om langer van die werk af weg te bly nie. My kinders is by Laerskool Pietersburg in die skool en ek is in Compensatiestraat werksaam, ek het geen idee hoe ek hulle heen en weer gaan vervoer wanneer die skole weer open nie. Daar is altyd die moontlikheid om ‘n saamrygeleentheid te reël, maar ek as enkelouer kan ongelukkig nie bekostig om ‘n bydrae vir petrolgeld te maak nie,” verduidelik sy.

Bo en behalwe die vervoerprobleme waarmee die Pretoriusgesin nou sukkel, het hulle ook geen mediese dekking nie. Hulle kan ook nie die bybetaling op die motorversekering bybring nie en die motor is deur die versekering afgeskryf.

“My kinders gaan berading nodig hê na die trauma.

“Die trauma is vir ons as gesin veral erg omdat my man drie jaar gelede in ‘n motorongeluk gesterf het.

Die kinders ervaar die trauma van die ongeluk baie erg.”

maretha@nmgroup.co.za

Related Articles

Back to top button