Local NewsNews

Theresa laat kanker haar nie onderkry nie

Internasionale Kankeroorwinnaarsdag was onlangs gevier en Review het met Theresa Hovy gesels oor kanker en wat dit verg om dit te oorwin.

POLOKWANE – “Ek is in 2012 met borskanker gediagnoseer en het ‘n mastektomie in my regterbors ondergaan. Ek is later ingelig dat die kanker na my lewer en skelet versprei het,” vertel Theresa.

Theresa het in 2012 en 2014 chemoterapie ontvang en het in 2012 ook bestraling ontvang. Die kanker is nie geneties nie en sy het dit deur selfondersoek opgemerk. “Jy wil nie altyd erken wat jy voel nie. Ek het die knoppie gevoel, maar wou dit nie erken nie. Wat ek wel geleer het is dat mens nie bang moet wees om vir ‘n tweede opinie te gaan nie. Jy gaan soms ook vir ‘n tweede opinie om jou familie gerus te stel.”

Theresa vertel dat ‘n positiewe gesindheid jou die wêreld se goed doen. “Dit is net genade van bo wat help dat mens positief bly. Ek is ook glad nie bang vir die dood nie. As jy weet dat jy die dood in die oë kyk, het jy ‘n ander perspektief. Jou gesin ondergaan ook baie veranderinge, niemand is meer dieselfde as wat ons voor die kankerdiagnose was nie.”

Sy vertel dat sy in haar lewe baie veranderinge ondergaan het. Sy vertel dat menseverhoudings nou nóg meer belangrik is en dat sy meer geleentheid maak om by familie en vriende te kuier. Sy het altyd gesond geëet, maar let nou meer daarop om kos wat bekend staan as kankeraanhitsers te vermy asook verwerkte kos. “Dit is ook belangrik om oefening te doen en sodoende meer suurstof in jou bloed te kry.”

Sy sê mense moet nie bang wees om vir ander te vertel dat hulle kanker het nie.

“As almal weet is dit soveel makliker vir jou. Mense sal jou help en ondersteun en hul liefde en hulp dra jou deur moeilike tye.”

Laastens doen sy ‘n beroep op lesers om die kinders by die Tough Living with Cancer (TLC) saal by die Pietersburg Provinsiale Hospitaal te ondersteun deur vir hulle kleurkryte, inkleurboeke en storieboeke te skenk waarmee hulle hulself kan besig hou.

maretha@nmgroup.co.za

Related Articles

Back to top button