Local sportSport

Top 10 plek by Arnold Classic vir plaaslike spiertier

Donovan Suddes, 'n plaaslike liggaamsbouer, het sy spiere behoorlik laat bult by hierdie jaar se Arnold Classic Africa en weggestap met 'n plek in die top 10.

POLOKWANE – Donovan het onlangs aan die Mans Atletiese Liggaamsbou vir mans langer as 1,78 m deelgeneem waar hy ‘n sesde plek behaal het. Hy het dié gesogte plek behaal teen liggaamsbouers van 48 ander lande, ondanks ‘n besering aan sy hand.

Hy sê nadat hy sy hand in Desember verlede jaar gebreek het, kon hy nie sy normale oefenroetine volg nie en het hy baie liggaamsmassa en spiere verloor.

“Ek en my afrigter, Basil Nel, was baie bekommerd omdat ek so ver agter geraak het met my oefenroetine vir die Arnold Classic Africa. Maar Basil het feitlik die onmoontlike laat gebeur en met ons albei se toewyding en harde werk het ek dit reggekry om ‘n sesde plek te wen,” sê Donovan.

Donovan verduidelik dat die posisie nie besonders belangrik vir hulle was nie, maar dat hy wel tot op sy beste liggaamsbouvlak wou kom voor die kompetisie.

“Ek wou graag my harde werk op die verhoog ten toon stel. Vir my het dit nie saak gemaak of ek sou wen of in die top 10 sou eindig nie. Dit was meer vir my ‘n persoonlike mikpunt eerder as om te wen,” verduidelik hy.

Donovan sê hy het die Arnold Classic Africa onbeskryflik baie geniet omdat hy die geleentheid gehad het om teen top liggaamsbouers van regoor die wêreld deel te neem.

Hy sê hy is onbeskryflik dankbaar vir al sy ondersteuners wat hom bygestaan het en dié wie saam met hom na die kompetisie gereis was.

Hy gaan eers in Maart volgende jaar weer deelneem aan ‘n liggaamsboukompetisie, die Millennium Goldplate. Hy sê ook dat hy definitief aan volgende jaar se Arnold Classic Africa gaan deelneem.

“Dankie aan almal wie my ondersteun het, daar is so baie van julle. In besonder wil ek dankie sê vir Basil Nel wat hard gewerk het om my te help herstel en oefen nadat ek weer my hand kon gebruik. Ek wil graag vir Dawid Groenewald van Body Life dankie sê dat hy my lidmaatskap geborg het. Dit het my oefenroetine en herstel baie makliker gemaak. Body Life is ‘n uitstekende gimnasium. Die atmosfeer is altyd vriendelik en almal is soos een groot familie.”

Donovan vertel dat hy wonderlike mense in sy lewe het wie hom altyd onvoorwaardelik ondersteun en wie net so baie deel het in wat hy bereik soos hy self en dat hy onbeskryflik dankbaar is vir hulle ondersteuning.

calvyn@nmgroup.co.za

Related Articles

Back to top button