Bosveld NewsEntertainmentLifestyleNews

Bosveld se bobaas bakkers berei voor vir kompetisie

Bring jou ander helfde en kroos op 18 Junie na die Piet Potgieter ouetehuis in Hoogestraat en kom wys hoe jy 'n pannekoek in die lug kan gooi.

MOKOPANE – As jy nie self lus is vir die bak en brou nie, kom kyk dan hoe jou buurman dit doen.

Die ouetehuis is opsoek na die Bosveld se bobaas pannekoekbakker. Bring dus jou flopvryeresep en kom wen een van die heerlike pryse wat op die spel is tydens die tehuis se Kind- en Ouerdag.

Mariana van Tonder, Bestuurder van die tehuis, sê die pannekoekkompetisie is oop vir almal en om 08:30 gaan die verskeie spanne mekaar die stryd aansê om te bepaal wie se pannekoeke die lekkerste smaak.

As jy nog in jou ouma se resep glo, een of ander geheime bestandeel gebruik wat jou degie ‘n wenner maak, of ‘n vulsel het wat die smaakkliere kielie, is die kompetisie net vir jou. Inskrywingsgeld is R200 per span wat uit vier mense bestaan, twee bakkers en twee wat die pannekoeke moet vul. Elke span moet ten minste 50 pannekoeke bak waarvan 30 met kaneelsuiker gestrooi moet word en 20 gevul moet word met ‘n vulsel van eie keuse.

Mariana sê daar mag nie meer as ses panne gebruik word nie en die twee bakkers van elke span sal hulle slag moet ken. Bring jou eie toerusting, slegs twee tafels en vier stoele sal aan elke span verskaf word. Die pannekoeke sal ten bate van die ouetehuis verkoop word teen R3 elk vir die met kaneelsuiker en R10 vir die pannekoek met ‘n heerlike vulsel.

Die beoordeling begin om 09:30 en die span wat die meeste pannekoek in ‘n halfuur kan bak kan ‘n maandpak vleis huistoe neem.

Die span wat die lekkerste vulsel in hulle pannekoeke het, wen ‘n weekpak vleis en diegene met die lekkerste kaneelsuiker-pannekoek wen ‘n halwe lam. Om die gees aan te wakker is daar ook ‘n geskenkbewys van Maxi’s vir die span met die beste spangees.

Kom skryf vandag nog in. Die inskrywings sluit Maandag, 13 Junie om 12:00. Vir navrae kan die tehuis by (015) 491 6314/5 geskakel word.

redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za

Related Articles

Back to top button