Local NewsNews

Ouma Nellie (80) ‘n inspirasie vir ander

Ouma Nellie Steyn (80) bestuur haar motor nog self en werk elke dag as boekhouer en sekretaresse vir Dirk de Jager.

POLOKWANE – “Ek is my lewe lank al in die motor-industrie nadat ek na skool van Tarkastad na Oos-Londen is om ‘n handelskursus te voltooi,” vertel sy waar ons gesellig in haar sitkamer sit in die huis waar sy al sedert 1961 woon. “Na ek klaar studeer het, is ek terug na Tarkastad waar ek by ‘n motorhandelaar gewerk het. In 1955 is ek getroud en kort daarna het ons na Vereeniging toe getrek.”

Daar het hulle vir 18 maande gewoon waar sy by ‘n motorhandelaar gewerk het.

“Hier het ek vreeslik baie geleer en ek moet sê ek is oor die algemeen baie gelukkig met die wat ek goeie werkgewers gehad het deur die jare waarby ek baie kon leer,” vertel sy.

Ouma Nellie vertel dat sy drie kinders en nege klein kinders het. Kort voor haar seun se geboorte het hulle na Standerton getrek waar hulle vir ‘n jaar gewoon het voordat hulle in Polokwane kom vestig het.

“Ek het by Pietersburg Vulstasie werk gekry as kassiere en telefonis. Later het ek meer administratiewe werk gedoen. Weereens kon ek baie leer van die persoon by wie ek oorgeneem het,” sê sy.

Sy vertel dat in Maart 1972 het Pietersburg Vulstasies en Elda Motors saamgesmelt en het sy weer as kassiere begin werk.

“Weer kon ek die geleentheid kry om later administratiewe werk te doen en later het ek die boekhouer of rekenmeester se werk oorgeneem.

“In Mei 2005 is Elda Motors deur Westvaal Motors oorgeneem en al die personeel is saam oor. Ek het ek egter vir Dirk de Jager by sy eiendomsbesigheid bly werk en werk steeds vir hom,” sê sy.

Sy vertel dat haar geheim vir jonkbly is om besig te bly. “Ek het honde, papegaaie, ‘n kat en skilpaaie gehad wat my besig gehou het. Ek doen ook alles self. As jy stil sit begin jy dink en dan raak jy oud. Ek is ook nie tegnologies gestremd nie, ek doen my eie bankdienste op my selfoon en bly meeste van die tyd besig.”

Met Ouma Nellie se 80ste verjaarsdag het Dirk vertel dat sy vir hom ‘n groot inspirasie is.

“Sy is vir my soos ‘n ma en nie ‘n werknemer nie. Wat uitstaan van haar is haar absolute perfeksionisme, lojaliteit en toegewydheid. Sy is ‘n groot aanwins en ‘n ware steunpilaar.”

Douwlene Coutts, Ouma Nellie se kleindogter, vertel dat Dirk en Ouma Nellie gereeld koppe stamp en dat alhoewel haar ouma dikwels moeilik is, staan sy by haar oortuigings.

maretha@nmgroup.co.za

Related Articles

Back to top button