Local sportSport

Niks kan dié meestersatleet keer nie

Plaaslike pastoor en top atleet, Deon Jewaskiewitz, het aan die 40ste Suid-Afrikaanse Meesters Atletiek baan- en veldkampioenskappe deelgeneem by die Pilditch Stadium in Pretoria verlede Vrydag en Saterdag.

POLOKWANE – Jewaskiewitz het deelgeneem aan die 100 m en 200 m items waar hy teen top nasionale en internasionale atlete moes meeding.

Ondanks die feit dat Jewaskiewitz nie gesond was omdat hy met verkoue geworstel het en dit baie koud en renerig was, het hy steeds twee brons medaljes verower.

“Saterdag met die 100 m was dit nat en koud, 13 grade Celsius, daar was baie opondhouds by die wegspringpunt, jy warm op en koel weer af en warm op en koel weer af. Ons het nie verwag dit gaan reën nie, so ek het nie ‘n sambreel saamgebring nie, gevolglik het ek in die reën gestaan, sopnat, met ‘n verkoue,” vertel Jewaskiewitz.

Ondanks die omstandighede het Jewaskiewitz gewys dat hy ‘n talentvolle en toegewyde atleet is en het hy nie met leë hande terug gekeer nie. “Ek voel tog ek kon beter gedoen het. Ek het ‘n besering aan my bobeen opgedoen en die verkoue het omstandighede vererger. Maar soos hulle sê, jy is nie ‘n meestersatleet as daar nie iets seer is nie,” skerts hy.

Vir hom was dit ‘n enorme eer om teen top nasionale en internasionale atlete mee te ding en hy sê hy het dit baie geniet. Volgende op Jewaskiewitz se agenda is om aan die Afrika Meesters Atletiek Kampioenskappe, wat van 27 tot 29 Mei in Cameroon plaasvind, deel te neem.

“Ek sal graag ook aan die Australië Perth Kampioenskap in Oktober wil deelneem waar die Wêreld Meesters Atletiek Kampioenskappe gaan plaasvind, maar daar is baie voorbereiding wat ek eers wil doen.”

Dié top atleet sê hy is baie dankbaar vir die Here in sy lewe en dat die Here vir hom die geleentheid gee om elke dag op te kan staan met die wete dat hy nog kan deelneem en doen wat hy kan doen met alle eer aan Hom.

calvyn@nmgroup.co.za

Related Articles

Back to top button