Local NewsNews

Onnie se ring terug danksy Osie

Oosskooljuffrou Christine Strauss se verloofring is weer waar dit hoort nadat 'n gr. 7-leerder van Oosskool, wat die opgetel het, dit veilig terugbesorg het.

POLOKWANE – Wanneer ‘n paartjie die dag verloof raak, is dit net reg dat die dame ‘n ring kry. Soms word daar baie geld spandeer, en soms nie, maar dit bly ‘n teken van ‘n beloofde hart. Wanneer iets met die ring gebeur, is dit gewoonlik ‘n geweldige skok.

Dié skok en hartseer het Oosskooljuffrou Christine Strauss en haar verloofde, Renier Neethling aan die begin van die maand getref toe sy haar ring verloor het. Die paartjie is nie eers twee maande verloof nie.

“Ek weet nie presies hoe dit gebeur het nie, maar toe ek die Vrydagmiddag by die huis kom, toe besef ek my ring is weg. Ons het ons planne vir die naweek gekanselleer en ek het die huis begin omkeer op soek na my ring.

“Ons het selfs die tuin omgehark in die hoop dat ons my ring daar sou kry. Die Saterdag het ons skool toe gegaan, maar moes teleurgesteld en hartseer met leë hande terugkeer huis toe.

“My langnaweek was in sy kanon, ek was siek van bekommernis,” vertel Christine.

Groot was haar verbasing toe een van haar medepersoneellede haar vertel dat ‘n gr. 7-leerder, Monika Engelbrecht, die ring die Vrydag reeds opgetel het en veilig bewaar het tot die skool weer die Dinsdagoggend oopgemaak het.

“Ek het die ring opgetel en gevra of dit aan iemand behoort, maar dit was niemand s’n nie. Toe besluit ek om dit maar te hou en dan Dinsdag terug te bring skool toe. Ek is bly ek kon Juffrou Christine help. Ek voel nie soos ‘n held nie, maar ek besef net weer dit is beter om altyd eerlik te wees.”

Christine en Renier het vir Monika ‘n beloning gegee “vir haar bankrekening”.

“Ek kan nie ophou dankie sê vir Monika en haar eerlikheid nie. Ek en Renier is opreg dankbaar,” sê Christine.

Juffrou Christine Strauss se verloofring is weer waar dit hoort nadat 'n gr. 7-leerder van Oosskool, wat die opgetel het, dit veilig terugbesorg het.
Juffrou Christine Strauss se verloofring is weer waar dit hoort nadat ‘n gr. 7-leerder van Oosskool, wat die opgetel het, dit veilig terugbesorg het.

maretha@nmgroup.co.za

 

Related Articles

Back to top button