Local NewsNews

Ouers en skoolfonds: tawwe tye

Plaaslike skole word deur die stygende pryse van basiese voedselbenodigdhede, brandstof en elektrisiteit geaffekteer.

POLOKWANE – Al hoe meer ouers is besig om stadig maar seker agter te raak met die betaal van skoolfonds en buitemuurse aktwiteite en ander ekstras word ook gestaak volgens plaaslike skoolhoofde.

Skoolhoof Peet Bredenkamp van Suidskool sê daar is ook ‘n definitiewe afwaartse neiging in die aantal ouers wat tot die skool se fondsinsamelingsprojekte of projekdae bydra.

Die stygende lewenskoste lei ook daartoe dat talle ouers wat dalk in die verlede hulle kinders self na sportbyeenkomste toe vervoer het, nou hul kinders met die bus daarheen laat ry.

Met die afname in inkomste in fondsinsamelings raak dit natuurlik vir die skool ook moeilik om behoeftige kinders by te staan, het hy gesê.

Een van die ander laerskole wat Review gekontak het, meen onderwysers ook dat ouers toenemend minder hul kinders se ou klere aan die klerebank skenk, en dit eerder verkoop.

‘n Skakelpersoon by Oosskool meen daar was wel ‘n geringe afname in die ondersteuning vir fondsinsamelingsprojekte by dié skool, maar dat die skool verder tans minder geraak word deur die swak ekonomie.

By Christian Achievers Academy het Elize Bothma bevestig ‘n toename in ouers wat nie betaal nie. Sy sê egter ook die skool het ‘n oopdeurbeleid in hierdie verband en dat die hoof bepaalde reëlings met ouers maak om te sorg dat die geld wel betaal word.

Te oordeel aan kommunikasie aan ouers soos op die D6 Communicator, ‘n kommunikasieprogram, bevind talle skole hulself in ‘n posisie waar die invordering van skoolfonds problematies raak.

PHS Skoolhoof Willie Schoeman het ook die kwessie onlangs op dié program opgehaal.

Volgens die skool se skakelbeampte, Anna-Marié Schoeman, gaan ‘n skool altyd nie-betalers hê.

Sy meen verhoogde skoolfondstariewe ondervang tans die verlies wat die skool moontlik aan ondersteuning van die fondsinsamelingsprojekte mag ly.

Sy sê egter die skool het nie ‘n werklike afname in deelname op sport- en kultuurgebied waargeneem nie aangesien dit hoofsaaklik leerders uit middel- en hoë-inkomste gesinne is wat deelneem en dalk gesinne is wat nie die knyp van die ekonomie tans so hard ervaar soos diegene in die laerinkomstegesinne nie.

Sekere kleuterskole in die stad sien ook tans ‘n afname in die getal kinders wat ingeskryf word.

Een dagsorgeienaar wat anoniem wou bly, het aan Review gesê ouers sal kinders eerder by familie los om geld te bespaar of die bediende ‘n paar rand ekstra per maand betaal om dié funksie by die huis te vervul.
riana@nmgroup.co.za

Related Articles

Back to top button