EntertainmentLifestyle

Basie leef sy passie uit

Partymaal sien mens selfs die kunstenaar in aksie waar hy buite in sy tuin sit en teken

POLOKWANE –  Inwoners van Polokwane is al daaraan gewoond om die oortreflike kunswerk van Basie Smit te sien waar dit uitgestal word teen die heining van die huis op die hoek van Natorp- en Hermanstraat. Partymaal sien mens selfs die kunstenaar in aksie waar hy buite in sy tuin sit en teken.

Basie is nie net bekend vir sy kunswerk nie; hy was op ‘n stadium skoolhoof by ‘n skool op die Rand en is ‘n Aardrykskunde onderwyser. Hy is oppad Saudi Arabië toe waar hy ‘n onderwys pos aanvaar het. Intussentyd teken hy om besig te bly en ‘n inkomste te verdien. Sy vrou, Erika, is ‘n onderwyseres en hulle het drie kinders saam.

“Ek doen reeds van kleintyd af kuns maar sport is eintlik vir my ‘n groot liefde en passie en kuns sommer net ‘n tydverdryf.” Basie het al in verskeie wedlope deelgeneem, insluitend die Comrades Marathon. Hy het ook verskeie toekennings vir liggaamsbou weggedra.

“Ek teken slegs met ‘n potlood, verkieslik ‘n Peizer 0.5. Ek teken ook verkieslik natuurtonele en diere.” Hy vertel dat hy slegs op doeke teken. Volgens hom is die tekstuur op ‘n doek net soveel beter.

Sy eerste tekening was van leeus wat slaap so dit is maklik om te sien dat die natuur hom inspireer. “Ek teken dinge soos ek dit sien. As daar diere betrokke is, werk ek van fotos en prente af, maar vir ‘n gewone natuurtoneel teken ek uit my kop uit. Ek teken ook nie aaneen nie, maar stuk-stuk. Die buffel waarmee ek nou besig is, neem my al sowat vyf dae.”

Hy vertel dat hy geen sentiment aan sy tekeninge heg nie. “Teken is vir my ‘n vorm van terapie,” verduidelik hy. Mense koop egter moeiliker as gevolg van die ekonomie wat druk.

“Ek geniet dit en terwyl ek teken is my gedagtes vry om te gaan waar hulle wil.”

 

maretha@nmgroup.co.za

 

 

 

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button