Bosveld SportSport

Nel-sussies ware sportuitblinkers

Wilma (14) en Jana Nel (11) - 'n dubbele dosis talent wat op die sportvelde uitblink.

MOKOPANE – Die Nel-susters het albei onlangs hul slag teen die land se top-atlete gedurende die SA Atletiekkampioenskappe gewys.

Wilma, ‘n gr. 8-leerder van Hoërskool Piet Potgieter, het die skool trots in gewigstoot en so ook (tot haar verbasing) in diskus verteenwoordig gedurende die SA’s in Bloemfontein van 17 tot 19 Maart.

Wilma vertel: “Ek het ‘n dag voor ek aan diskus moes deelneem gehoor ek het daarvoor gekwalifiseer. Dit was ‘n aangename maar uitdagende verrassing. Wat die kampioenskappe nog tawwer gemaak het, is die feit dat ek in ‘n hoër ouderdomsgroep moes deelneem.” Wilma het ‘n 15de plek uit 27 atlete in die gewigstoot vir meisies o/15 met ‘n afstand van 11,35 m behaal. Dit was haar vierde Suid-Afrikaanse byeenkoms. Nie net blink sy op die atletiekveld uit nie, maar sy was vir vyf agtereenvolgende jare as Junior SA Armdrukkampioen gekroon. Sy het ook ‘n groot liefde vir hokkie en swem.

“Ek sal graag eendag ‘n medalje of twee by die SA’s wil inpalm,” sê Wilma.

Jana, ‘n gr. 6-leerder van Laerskool Krugerpark, het die skool vir die tweede agtereenvolgende jaar by die SA’s in Port Elizabeth van 10 tot 12 Maart in verspring verteenwoordig en ‘n gesogte 10de plek losgespring. Jana is, soos haar suster, ‘n kranige hokkie- en netbalspeler. “My doelwit is om nog talle medaljes in te ryg,” sê sy. Jana bedank haar afrigter, Gerda du Toit, vir die afrigting en ondersteuning gedurende die seisoen. Wilma en Jana vertel trots dat hulle liefde vir sport afkomstig is van hulle ouers, Wilma en Phillip.

“My ma spog met meer as 200 medaljes wat sy in atletiek verwerf het en my pa het vir sewe agtereenvolgende jare die titel van armdrukkampioen ingepalm. Hy was ook ‘n baie goeie gimnas.” Wilma (ma) sê: “Ons lewe vir atletiek en mis nie ‘n enkele byeenkoms nie.” Die susters bedank al die borge wat dit vir hulle moontlik gemaak het om aan die SA’s te kon deelneem. Albei sê hulle sal lewenslank sport wil beoefen. “Dit is ons passie.” Hulle raad aan ander atlete is: “Glo en vertrou in God en oefen hard. Dit is baie belangrik om ‘n positiewe selfbeeld te hê.”

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button