Bosveld NewsNews

Ons land brand!

REDAKTEUR SE INK: Wat het van wet en orde geword? Vandeesweek het 'n groep betogers van die munisipaliteit wat ontevrede is oor hulle salarisse, die hele dorp in chaos gedompel terwyl die polisie eenkant hande gevou gestaan en toekyk het.

Wat het van wet en orde geword? Vandeesweek het ‘n groep betogers van die munisipaliteit wat ontevrede is oor hulle salarisse, die hele dorp in chaos gedompel terwyl die polisie eenkant hande gevou gestaan en toekyk het.

Dit was ook eers Maandag na verskeie oproepe dat ‘n paar polisielede aan die einde van die daglange verwoesting hulle verskyning gemaak het sonder om die betogers te probeer stuit. Die betogers het die polisievoertuie geskud, met riool gespuit en ook sommer agter die stuur ingeskuif sonder dat die polisie ‘n vinger verroer het om die amok te probeer stop, moontlik in vrees vir hulle eie lewe.

Hierdie betogers was aggressief, gevaarlik en barbaars. Hulle waglike dade getuig van mense wat geen respek het vir die gemeenskap en vernielsug en afbreek voer die botoon sover as wat hulle geloop en betoog het deur die dorp en woonbuurte. Met hulle ek-gee-niks-om houding het die mans so in die loop hulle broeke losgemaak om te urineer.

Eers is daar voor die munisipaliteit klippe gegooi, bande gebrand en gedans, vanwaar die groep in ‘n konvooi na die burgemeester se huis is in Taylorstraat. Een van die munisipaliteit se eie vullisverwyderingsvragmotors is ingespan om die hek plat te trap voordat die lang pype uitgehaal en vuil riool in die erf gespuit is. Daarna is ‘n groot vrag rommel in die ingang gelos.

Dit was nie die einde want volgende was raadslid Sam Montane se huis in Mahwereleng en sover as wat daar gestap is, is plante uitgeruk, asblikke omgegooi en groot klippe in die strate gepak.

Ek en joernalis, Jolandi Fourie, is talle keer gedreig dat hulle ons gaan skop, slaan en ons eiendom gaan vernietig sou ons dit waag om hulle af te neem. My kamera is in ‘n stadium van voor gegryp en toegedruk. Hierdie mense met stokke, pikstele en klippe het ons geintimideer en gedikteer wanneer ons foto’s mag neem en dit was eers nadat hulle verniel het, wat ons die knoppie kon druk om seker te maak ons neem hulle nie af nie.

Vir die eerste keer in my 25 jare lange joernalistiek loopbaan wat baie optogte, protesaksies en selfs bomaanvalle in die apartheidsjare insluit, het ek onveilig gevoel en gesorg dat ek naby die veiligheidswagte van SOS bly.

Ek het ook met ander oë gekyk na die goeie werk wat SOS se manne gedoen het. Dit was hulle wat vooruit gery en die verkeer gewaarsku het, die burgemeester se huis na die verwoesting binnegegaan het om te kyk of daar mense is wat hulp nodig het. Dit was SOS se reaksie-offisier, Willie Harmse wat die jong getraumatiseerde dogterjie van die burgemeester opgetel en na buite gebring het saam haar oppasser sodat hulle van die toneel kon wegvlug.

Tuis kon ek nie vinnig genoeg onder die stort gaan staan om die rioolreuke wat aan ‘n mens kleef te probeer afwas nie. Onder die lopende water het die dag se gebeure vlak voor my kom lê en ek het gewonder waarheen is ons oppad? Wat het geword van vrede, veiligheid, voorspoed en vooruitgang in Mokopane, Mookgophong en Modimolle. Ek het besef ons land is aan die brand.

Related Articles

Back to top button