Local NewsNewsSchools

Tommies verwelkom hul nuwe hoof

Piet Holtzhausen was vir die afgelope ses maande waarnemende hoof van die skool en het verlede Dinsdag 'n aanstellingsbrief ontvang.

POLOKWANE – Leerders, onderwysers en ouers van Hoër Tegniese Skool (HTS) Tom Naudé het verlede Dinsdag die goeie nuus ontvang dat daar uiteindelik, na sowat drie jaar, ‘n nuwe hoof vir die skool aangestel is.

Piet Holtzhausen was vir die afgelope ses maande waarnemende hoof van die skool en het verlede Dinsdag ‘n aanstellingsbrief ontvang.

“Dit gaan klink of ek spog, maar ek het dit effens verwag. Daar was heeltyd ‘n positiewe gevoel onder die beheerliggaam en die gemeenskap. Ek was reg daarvoor, tog, toe ek die aanstellingsbrief kry, was ek verras. Johan Venter, voorsitter van die beheerliggaam, het my kort daarna gebel en my gelukgewens. My vrou Ansie was ook baie trots en opgewonde oor die nuus.”

Piet sê hy het oorspronklik in Vivo gewoon en dat hy sy laerskoolloopbaan daar voltooi het.

“In 1970 het ek as gr. 8-leerder by Tom Naudé begin en in 1974 matrikuleer. In 1981 het ek hier begin skoolhou. Ek was ‘n ambagsman en het my hoëronderwysdiploma in 1991 deur Unisa voltooi. In 1992 is ek aangestel as departementshoof vir tegnies en in 2010 is ek aangestel as adjunkhoof vir tegnies.”

Hy beplan om by Tom Naudé af te tree en sê dit is vir hom soos die voltooiing van ‘n ideaal. “Ferdi Preller was my mentor en hy het eendag vir my gesê ek moet sy skoene volstaan. My pligte gaan verander in die sin dat daar meer administratiewe werk gaan bykom. Ek gaan ook nouer by die ouers betrokke wees om hulle versoeke na te kom en klagtes op te los. Ek gaan steeds skoolgee en rugby afrig vir die o/14B-span, en alhoewel my nuwe pos ‘n groter uitdaging bied, sien ek beslis daarna uit.”

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button