Bosveld NewsLettersNewsOpinion

Inwoners neem self opruimaksie

"Reeds voor Kersfees het bome in wyk 31 omgeval en die toegang tot die huise van 'n aantal inwoners versper. Die wyk is in DA besit en ondanks herhaalde versoeke is daar niks aan gedoen nie.

MOKOPANE  – “Reeds voor Kersfees het bome in wyk 31 omgeval en die toegang tot die huise van ‘n aantal inwoners versper. Die wyk is in DA besit en ondanks herhaalde versoeke is daar niks aan gedoen nie.

In dieselfde wyk is daar ‘n openbare park waar die bougainvilleas wild en onbeheersd groei. Dit bied skuiling aan dwelmverslaafdes en ander booswigte wat ‘n gevaar inhou vir die inwoners, waarvan heelwat bejaardes is. Ondanks verskeie versoeke is daar ook hier geen poging aangewend om te help nie en die bejaarde inwoners het maar self ingespring en op eie koste die park begin opruim en die wilde struike gesnoei.

Front Nasionaal beskou dit as suiwer laksheid van die DA-raadslid en die munisipale bestuur om toe te sien dat belastingbetalende inwoners self die koste en moeite moet doen om openbare ruimtes skoon te hou en te beveilig.

“Ek en Lydia van der Merwe van Front Nasionaal Limpopo het self ingeklim en die bome gaan opsaag. Die vuilgoed in die park is ook opgeruim en weggery.

“As die verkose verteenwoordigers op ons rade dan nie hulle werk doen nie, is dit tyd vir hulle om ander werk te soek,” meen Johan van Wyk, Front Nasionaal se leier in Mokopane.

Korny Dekker, DA-raadslid van wyk 31 reageer as volg: “Baie dankie dat daar nog mense is wat graag wil help. Ek sal baie graag wil weet aan wie is die probleem met bome wat omgeval het gerapporteer. Beslis nie aan my nie. U is welkom om navraag toe doen by menige inwoners van die dorp om by hulle te hoor wat gebeur as daar probleme by my gerapporteer word.

“Ek is bewus van die twee parke en daar is reeds in Desember met inwoners van die spesifieke gedeelte in verbinding getree om te kyk of ons as inwoners dalk ook ‘n verskil kan maak.

“Daar was ‘n vergadering met die personeel van die munisipaliteit se parke-afdeling by die parke op 13 Januarie gewees. Die parke-afdeling het reeds begin om skoon te maak, asook om van die bome te snoei.

As daar iemand in die dorp is wat net so erg oor dienslewering voel is dit beslis die twee DA raadslede in die dorp. Ek voel net soos u dat dit nie nodig is vir inwoners om self hand in die sak te steek nie, want dit bly die verantwoordelikheid van die munisipaliteit om diens te lewer. Dit is tog nog lekker om te kan sê ons het gehelp om iets mooi en skoon te hou. Baie dankie aan daardie mense wat nog graag n verskil in hulle eie omgewing wil maak.

“Gaan kyk net ‘n bietjie hoe lyk ander dorpe in ons provinsie want dan besef ‘n mens dit gaan eintlik baie goed in ons dorp. Dit is belangrik om te onthou dat Mogalakwena Munisipaliteit met sy 32 wyke ‘n ANC-beheerde munisipaliteit is. Vergelyk gerus die twee DA wyke met die res van die ANC wyke, asook munisipaliteite wat deur die DA bestuur word.”

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button