Editor's choiceLocal NewsNews

Jong boer sterf in fratsongeluk

Louwrens de Jager is Sondagmiddag op hul plaas net buite die stad doodgeskok, vermoedelik deur 'n kortsluiting by 'n spilpunt.

POLOKWANE – Louwrens de Jager is Sondagmiddag op hul plaas net buite die stad doodgeskok, vermoedelik deur ‘n kortsluiting by ‘n spilpunt.

Hy en sy vrou, Lee-Ann, en hul twee kinders het vir ‘n Sondagmiddagrit gegaan deur die landerye toe Louwrens opmerk dat een van die perde ‘n sproeier afgekou het.

Louwrens het die perde weggejaag en die sproeier weer probeer terugsit in die spilpunt. Hy is toe geskok.

Lee-Ann het dadelik na haar man toe gehardloop… Louwrens het uit die landerye gekruip en op sy rug gaan lê.

Volgens Louwrens se swaer, Nantes Booysen, het Lee-Ann die heeltyd kardiopulmonêre resussitasie op haar man gedoen tot die ambulans daar gekom het. “Sy het geveg vir haar man se lewe tot op die laaste,” het Booysen gesê.

Volgens sy pa, Louwrens snr. was hy en sy vrou by Kranskop, oppad huis toe van Pretoria toe Lee-Ann hulle bel.

“Sy was histeries. Ek het my dogter, Zole Theron, gebel en gevra dat haar man en Louwrens se vriend na die plaas toe ry om te gaan kyk wat gebeur het. My dogter het ook die ambulans gebel. Ons het Polokwane toe gejaag en toe ons op die plaas kom was die paramedici nog besig met Louwrens. Hulle het alles probeer om hom te help, maar dit was te laat,” vertel Louwrens snr.

Hy laat sy ouers, Karen en Louwrens de Jager, sy vrou Lee-Ann, hul twee kinders Carmi (1) en Louwrens (5 maande), sy twee susters Zole Theron en Carla Booysen en twee swaers, Nantes Booysen en Francois Theron na.

Louwrens se begrafnis word 10:00 Saterdagoggend vanuit die AGS Taberna Dei se Oos-Kampus in Bekkerstraat gehou.

Na die kerkdiens sal Louwrens op hul plaas begrawe word.

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button