Local NewsNews

Koos kort geldhulp om sy stryd teen klierkanker te wen

Koos (52) is in Junie verlede jaar gediagnoseer met 'n soort klierkanker in sy gesig.

POLOKWANE – Stap jy in dié huis in, is daar ‘n gespanne tog vrolike atmosfeer waar Koos de Beer en sy vrou, Hannelie, se kinders en familie kom kuier het.

Koos (52) is in Junie verlede jaar gediagnoseer met ‘n soort klierkanker in sy gesig. “Ek het vir baie lank sere in my mond gehad en toe het een gebars. Ek is dokter toe waarna biopsies gedoen en die kanker ontdek is,” verduidelik hy.

Koos praat baie moeilik en onduidelik en sy suster, Magda Bronkhorst, tolk namens hom.

Magda verdeuidelik koos se kankerstryd so ver

Koos is werksaam as ‘n “lowbed”-bestuurder by Fred’s Towing. Die eienaar, Fred du Plooy, het aangebied om die onkoste te dra vir die operasies wat na die kankerdiagnose nodig was.

Augustus 2014

Koos is in Kloof Mediclinic opgeneem waar die kankergewasse tydens ‘n operasie verwyder is. Tydens die operasie is die kanker is sy wang, wangbeen, verhemelte, keel en kakebeen verwyder tesame met ‘n klomp kliere.

Magda vertel hulle het ‘n spier van sy linker bors deurgetrek na sy gesig om die wangbeen te vervang.

“Na die operasie kon hy glad nie sy mond oopmaak om te eet of reg te praat nie. Maar niks het hom ondergekry nie. Hy het gepraat, al was dit moeilik en hy het gelewe op vloeibare kosse wat geen growwigheid bevat nie.”

Oktober 2014

Koos het chemoterapie en bestraling ontvang.

Februarie 2015

Die spier wat na sy gesig deurgetrek is, geknip om die kaak weer beweeglik te maak. Koos het egter ‘n kiem opgetel wat tot infeksie gelei het en die wond wou nie genees nie. Hy het baie pyn verduur.

“Daar is ‘n gedeelte, so groot soos ‘n R2-stuk, wat oopgebly het dat jy Koos se kakebeen kon sien.

Augustus 2015

Hy is weer opgeneem in die Kloof Mediclinic vir rekonstruksie aan sy gesig.

“Die kakebeen met infeksie is uitgesny en ‘n nuwer prostese is as kaak ingeplant, ‘n plaatjie is ingesit vir die deel van die verhemelte wat weggesny is en weefsel vanaf sy bo-been is oorgeplant na die binnekant van sy wang en ook die deel van die kaak wat oop was. Dié operasie het 10 ure geduur, maar weens ‘n virus was daar weer infeksie en alles wat tydens die prosedure gedoen is, moes weer verwyder word ‘n paar dae later.”

Die dokters het weer vergader en later in Augustus is weer ‘n operasie gedoen waar weefsel en spier van Koos se rug verwyder is. Daar was weer komplikasies met die bloedtoevoer en die bloed wat die hele tyd gestol het in die are. Daar is ook are vanaf die regterkant van Koos se gesig gebruik.

Volgens Magda is dié prosedures vier keer herhaal voor die dokters tevrede was. Vier dae later het die dokters egter besef waar die wang vervang is, funksioneer dinge nie reg nie en dit moes toe weer verwyder word.

“Hierdie keer moes hulle ook die prostese en plaatjie verwyder en die wond skoon skraap, want daar was erge infeksie. Koos was teen die tyd reeds drie weke in intensiewe sorg.”

Hannelie was elke besoektyd daar te danke aan ‘n vriend en werkgewer wie alles betaal het. Die hospitaalkostes wat oorspronklik gekwoteer is vir R485 000 het intussen gestyg na R1,5 miljoen. Die gastehuis waar Hannelie gebly het was R16 000. Koos het ‘n lelike bedseer ontwikkel en besoek tans die Wondkliniek drie maal ‘n week.

“Na die laaste operasie kan Koos nog minder verstaanbaar praat en kan nie meer kos deur sy mond inneem nie. Daar is ‘n buis in sy maag waardeur hy nou vloeibare voeding inneem.”

Magda vertel hulle moet tans alles uit hulle sakke betaal. Boonop moet Koos spesiale kos inkry wat ekstra kos. Al die rekeninge van die hospitaal en dokters is ook nog nie ten volle betaal nie.

“Ons waardeer wat Fred gedoen het, maar ons voel ons moet ook help. Ons vra nou die gemeenskap se hulp,” vertel Magda.

“Ons wil graag almal bedank wat reeds ‘n bydrae gemaak het.”

Die bankbesonderhede om Koos te help is:

bank – Capitec, takkode – 470010, rekeningnaam – JJ de Beer Trust, rekeningnommer: 1434003203

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button