Local NewsNews

Sport en plesier vir deelnemers en toeskouers

Op Saterdag, 28 September, het inwoners van die stad na die sportvelde van die Hoër Tegniese Skool Tom Naudé gestroom om die jaarlikse Limpopo Lentekarnaval by te woon.

POLOKWANE – Op Saterdag, 28 September, het inwoners van die stad na die sportvelde van die Hoër Tegniese Skool Tom Naudé gestroom om die jaarlikse Limpopo Lentekarnaval by te woon.

Die program het baie vroeg al begin en die dag was propvol aktiwiteite wat oud en jonk besig gehou het. Bergfietsrenne, perde-renne en ‘n pretloop het sport-entoesiaste se adrenalienvlakke ‘n hupstoot gegee.

Verder het die vlooimark, kosstalletjies, braai- en potjiekoskompetisies, sterkmanvertonings en kunstenaars verseker dat niemand verveeld rondgestaan het nie.

Die vlooimarkstalletjies het veral groot aftrek gekry. Karnavalgangers kon handwerk-items, juweliersware, gebak, snuisterye asook kos-items soos ingelegte rissies en doopsouse koop.

“‘n Mens moet iets anders bring na ‘n karnaval of basaar. Daar kan nie altyd net dieselfde vervelige items van stalletjie tot stalletjie wees nie. Daarom het ek en my ma in die pakkamer gaan rondsoek vir my ouma se spesiale ingelegte rissies en doopsouse,” het Deon de Jager vertel.

Marina Coetzer was baie beïndruk met die belangstelling in haar Gazabella Juwele. “Die mark is regtig groot in Polokwane en alhoewel dié juwele kostuumjuwele is, gaan die silwer glad nie af nie, want dit is ‘double-plated’. Dis lekker om te sien die vroue bederf hulself. ”

“Dit is die veelsydigste karnaval waar ek nog was, met alles van mosaïek-geskenkies tot die lekkerste eetgoed en boonop ‘n wonderlike vermaaklikheidsaand wat voorlê. Ek kan nie wag vir Mia Louw en Doringdraad om die spesiale dag af te sluit nie,” het Martie de Villiers gesê.

Jurie Olivier, organiseerder van die karnaval het vertel dat die organiseerders ‘n geleentheid raakgesien het.

“Polokwane het nie hierdie tipe geleenthede nie. Daarom het ek twee jaar gelede besluit om in samewerking met die Nederduits Hervormde Kerk-Noord ‘n karnaval te begin. Dit verg baie werk, baie beplanning en baie hardloop, maar ek geniet dit baie.”

Die bekende Afrikaanse komediant, Do-ringdraad, het feesgangers laat skaterlag. Hy het gesê hy geniet vertonings in Polokwane. “Die mense het gees en kan altyd baie lekker lag vir al my storietjies en sêgoed.”

Plaaslike vermaaklikheidsgroep, Sweet November, het die hoofprogram geopen met gewilde en nuwe treffers uit hulle eie penne.

Related Articles

Back to top button