Local NewsNews

Louis Ungerer se laaste wens

Louis Ungerer (13) het sy moedige stryd teen bloedkanker verloor in die vroëe oggendure van Sondag, 1 November.

POLOKWANE –Louis Ungerer (13) het sy moedige stryd teen bloedkanker verloor in die vroëe oggendure van Sondag, 1 November.

Louis, seun van Janine Ungerer, bekende landdros in die stad, is in Januarie met Akute limfoblastiese leukemie gediagnoseer nadat hy sedert verlede Desember begin kla het van erge moegheid.

Toetse het gewys die kanker is reeds in sy rugstring wat ook sy mobiliteit aangetas het. Louis kon sedert hy siek geword het nie weer skool bywoon nie.

Sy immuunstelsel was baie swak en hy kon aan geen kieme blootgestel word nie.

Louis was ‘n gr. 7-leerder aan die Laerskool Pietersburg en het daarna uitgesien om sy laaste laerskooljaar in 2016 te herhaal.

Veral ook omdat sy dokters en ma baie positief was met sy vordering sedert die kankerbehandeling begin het.

‘n Paar weke gelede het Louis se toestand egter verswak en moes hy weer in die Netcare Unitas Hospitaal in Centurion opgeneem word.

Daar het sy toestand verder verswak.
Hy het die stryd verloor met sy ma en familievriend, Andries Rheeder, aan sy sy.

Die hart van ‘n regte vegter
In ‘n onderhoud met Review vroeëer vanjaar het Janine en Andries die moedige Louis beskryf as ‘n soldaat wie nie ophou veg nie.

Andries het vertel hy was van die begin met Louis se diagnose op die toneel en het elke tree saam met die gesin gestap.

Hy het vertel die eerste ding wat Louis wou weet na sy kankerdiagnose was wanneer hy sal doodgaan.

“Ek het met hom gesit en gepraat oor die videospeletjies waarvoor hy so lief is en hoe die mense in die speletjies moet baklei om verder te gaan en hoe hulle dan van vlakke verander wanneer hulle veg.

“Niemand besef wat dit is om teen kanker te veg nie – nie totdat jy self daar is en sien hoeveel dit vat uit die mense wie daardeur geraak word nie.”

Janine het vertel dat sy as enkelouer haar krag van God kry en die ander ouers wie in soortgelyke situasies by die Unitas Hospitaal is het haar deur die moeilike tye gedra. Haar raad aan ouers wie met kanker te doen kry, was om positief te bly.

“Jy en jou kind moet ‘n span wees. Jy moet niks sonder jou kind doen nie. Selfs wanneer jy huil moet jy dit met jou kind deel, maar verduidelik hoekom jy huil en dat jy later sal beter voel.

“Laat die kind ook met die dokters praat en laat hom verstaan wat besig is om met hom en sy liggaam te gebeur tydens die behandeling,” was haar advies.

Die grootste wapen in die geveg teen kanker, het Janine gesê, is om die dokter(s) te vertrou.

As die ouers die dokter vertrou sal dit ook vertroue in die kind wek en kan almal saam met die mediese span werk om teen dié gevreesde siekte te veg.

“Sy plekkie is nou leeg”

Die hoof van Laerskool Pietersburg, Peet Bredenkamp, het aan Review gesê dat Louis sedert gr. R ‘n leerder by die skool was en die personeel kon getuig Janine het vir Louis op ‘n besondere wyse gekoester en ondersteun. Die twee het ook elke geleentheid aangegryp om by die skool betrokke te raak.

“Sy plekkie is nou leeg en ons almal se harte is seer. Die siektetoestand het ons almal aangeraak en hy was daarom deel van ons gebede elke dag.

“Ons danksegging is daarom aan God alleen want hy bly trou aan elke belofte vir Sy kinders. Dankie Here, vir Louis se lewe en vir die tyd wat U hom vir ons geleen het,” het hy gesê.

Hy het bygevoeg die skool sal Louis se nagedagtenis eer. Die gr. 7-leerders van die skool het in ‘n bidkring vir Louis bymekaargekom om hom en sy ma en vriende aan die Here op te dra.

“Louis het die wenstreep bereik om die hemelse prys te ontvang wat God deur sy Seun Jesus Christus ook vir hom gereed gemaak het. Ons gaan hom baie mis.”

Een van Louis se vriende het aan Review gesê al sy maats huil tans, maar dat hy seker is Jesus glimlag baie breed want hy weet hoe spesiaal Louis is en het hom kom haal om saam met hom videospeletjies te kan speel.

Die gedenk diens vir Louis Ungerer sal plaasvind om 11:00, Vrydag, 6 November 2015 te NG Kerk Moedergemeente in Biccardstr, Polokwane.

Besigtiging te AVBOB Polokwane 09:00-10:00.

Louis se wens was dat eerder as blomme en kranse vir die diens en familie, ‘n donasie aan “Paws for People” gemaak word. Die organisasie bied ondersteunings terapie met honde aan kinder kankerlyers by hospitale en klinieke deur hulle daar te besoek. ‘n Houer vir donasies sal beskikbaar wees na die diens.

 

Lees meer:

Louis verbeter elke dag

Die hart van ‘n regte vegter

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twittererer

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button