POLOKWANE – Wêreldonderwyserdag vind op 5 Oktober plaas.
Review het na Laerskool Pietersburg (Suidskool) gegaan en met die leerders gaan gesels om te hoor wie hulle gunsteling onderwysers is en hoekom.
Jonathan Muller (gr. R) sê hy hou baie van Lenytte Bosman omdat sy vir hom baie tekenwerk gee en ook lekker vrugte gee om te eet.
Yolandi Velloen is Emily de Lange (gr. 1) se gunsteling onderwyser want as die klas soet is gee sy vir die hele klas lekkergoed as beloning.
“My gunsteling onderwyser is juffrou Karen Muller omdat sy baie slim is. Sy gee wiskunde en help my as ek sukkel,” vertel Dominique Faul (gr. 2).
Clayton de Bruyn (gr. 3) sê dat Talitha Wessels sy gunsteling onderwyser is omdat sy hom baie rondstuur om goed vir haar te doen.
“My gunsteling onderwyser is juffrou Amri van Aarde omdat sy nooit baie huiswerk gee nie. Sy maak die lesse baie interessant sodat ek die werk geniet,” sê Karlize Bacher (gr. 4).
“Juffrou Marissa Wepener is my gunsteling onderwyser omdat sy altyd die werk woord vir woord verduidelik, sy is ook baie snaaks,” glimlag Chandré Faul (gr. 5).
Augusta van Niekerk (gr. 6) vertel dat Cornet van der Merwe haar gunsteling onderwyser is omdat sy altyd vriendelik is en altyd daar is as sy hulp nodig het.
Charlotte van den Bergh is een van Danae Marais (gr. 7) se gunsteling onderwysers omdat sy ‘n groot passie het vir kinders en al haar leerders graag help. Haar ander gunsteling onderwyser is Martin Krone omdat hy baie moeite doen en altyd vriendelik is met al die leerders.