Local NewsNews

Dehanné maak naam in musiekbedryyf

As 'n opkomende plaaslike kunstenaar, Dehanné Minnaar (21), droom van 'n voltydse loopbaan in die musiekbedryf.

POLOKWANE -As ‘n opkomende plaaslike kunstenaar, Dehanné Minnaar (21), droom van ‘n voltydse loopbaan in die musiekbedryf.

Dehanné vertel dat sy so ses jaar oud was toe sy begin sing het, “my pa is in die musiekbedryf en maak musiek by verskeie plekke of reël karaoke-aande.”

“My pa het sulke groot worsvingers en dan druk hy hulle in my maag en sê: ‘sing uit jou diagfragma uit, my kind’. Dan het ek gesing. Ek dink my pa het toe reeds in my persoonlikheid iets raakgesien wat vir hom gewys het ek kan wel sing,” vertel sy.

Sy het eerstehands beleef hoe oorvol die sangersmark in Suid-Afrika is. “As jy nie baie geld het om CDs op te neem en te bemark nie, gaan dit broekskeur.” Haar pa het haar aangeraai om haar sang eerder vir eers as ‘n stokperdjie te beoefen.

“Die heel lekkerste is om in staat te wees om ‘n storie met jou musiek te vertel. Ek skryf self ook en dis nie maklik nie want alles wat ek skryf kom van iets wat ek self beleef het. Die slegste is dat mense jou veroordeel. My mentor het egter altyd vir my gesê as mense weet jy is anders, het jy nie nodig om jouself te verduidelik nie.”

Musiek loopbaan só ver

Dehanné het vroeg reeds aan verskeie musiekkompetisies begin deelneem soos talentkompetisies by skole en ook aan die bekende TV-werklikheidsreekse SA Got Talent en SA Idols. Sy het dit as slypskole gesien en gou ander geleenthede begin raaksien.

“Ek was al die openingskunstenaar vir Snotkop, DJ Ossewa, Kurt Darren en ander bekende Afrikaanse sangers. My peetouers het ‘n sportkroeg en ek tree soms daar op.

Na een optrede in die Amsterdam Kroeg in die Weskaap het die bestuurder gevra of ek elke week daar kan optree. Terselfdertyd is ek ‘n platekontrak daar aangebied, maar omdat ek toe in Johannesburg gewoon het moes ek beide aanbiedinge van die hand wys.”

Daarna het die eienaars van ‘n bekende kroeg in Polokwane se vriende met ‘n ateljee in Johannesburg aangebied dat Dehanné ‘n CD daar opneem.

Dit sou haar R40 000 uit die sak jaag,wat sy in daardie stadium nie gehad het nie.

In ‘n verhouding van sewe jaar

“Ek is in Mokopane gebore maar het my gr.12 in Johannesburg voltooi. Tussendeur was ek in Phalaborwa en in die Kaap.

“My kêrel, Jaco het besluit om na skool hierheen te trek. Ek wou nie gaan studeer nie en het nie geweet wat ek met my lewe wou doen nie. Ek het op verskeie plekke gewerk en agtergekom dat ek ‘n liefde vir motors en die motorbedryf het. Tans is ek ‘n diensadviseur en vreeslik gelukkig in my loopbaan. Ek sing nou maar in my vrye tyd,” vertel Dehanné.

Sy is vroëer vanjaar met Jaco getroud na ‘n verhouding van sewe jaar.

 

Dehanné sing in Afrikaans en Engels en tree graag by korporatiewe geleenthede soos die onlangse insamelingsaand vir die Mev. Polokwane-wedstryd op.

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button