Local NewsNews

Hul is tjoekie toe vir KANSA

Blou ligte, polisiemanne en boeie - alles voor 10:00 op 'n Vrydagoggend en jy wéét jy is onskuldig.

POLOKWANE – Blou ligte, polisiemanne en boeie – alles voor 10:00 op ‘n Vrydagoggend en jy wéét jy is onskuldig. Tog neem hierdie vreemde polisiemanne jou in hegtenis. Die sel waarheen hulle jou neem, kom jy gou agter, is in die middel van Savannah Mall en die hofsaal is sommerso aanmekaar gesit. Dan weet jy, iemand het jou gedagvaar en nou moet jy betaal om vrygelaat te word.

Die ontvanger van die geld? Die Kankervereniging van Suid-Afrika, want dis tyd vir die jaarlikse Jail & Bail.

Die geleentheid is op Vrydag, 26 Junie gehou en was soos in vorige jare ‘n groot sukses.

Mense wat ‘gearresteer’ was het selfs raadslede en werknemers van Mercurius Motors ingesluit. Aanklagte het gewissel van “weiering om onderhoud te betaal” (van huise en nie kinders nie), name verf op Venter sleepwaentjies en “te ryk vir die samelewing”.

“Ek het baie groot geskrik toe ons in hegtenis geneem word. Ek het dadelik my prokureur geskakel. Ek bewe nou nog,” vertel Jaco Johnstone met ‘n bewerige glimlag vanuit die sel.

Hierdie jaar se gevangenes was telkens ‘n trappie slimmer as die polisiebeamptes en het gereeld probeer ontsnap. Jacques Smalle, die DA se provinsiale leier, het dit reggekry om die sleutel van die slot wat die sel toe hou in die hande te kry en te ontsnap. Julian Smit het ‘n piesang met ‘n naelvyl in vir sy pa, Johan Smit (NTK), gebring in die hoop dat Johan sal ontsnap.

Kansa het teen Vrydag reeds meer as R30 000 ingesamel en daar word steeds donasies inbetaal. Ook sal die verkoop van geskenkbewyse eers teen einde Julie gefinaliseer wees.

“Dit was ‘n baie suksesvolle dag, ons is baie dankbaar vir al die geld en ondersteuning,” het Sharon Stander, Kansa Polokwane se gemeenskapsmobiliseerder, vertel.

MEER FOTO’S

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button