BlogsOpinion

KATROLKKORS: Die regte kunsaas vir swartbaars

Uiteindelik kan ons begin kyk na hoe om swartbaars te vang.

Uiteindelik kan ons begin kyk na hoe om swartbaars te vang. In die vorige aflewerings het ons eers gekyk na die soorte visstokke, die soorte katrolle en die soorte vislyn en waarvoor elkeen geskik is. Want net soos ‘n ambagsman sekere gereedskapstukke het vir bepaalde werkies, is daar ideale hengelgerei vir elke aanbieding. As dit kom by die keuse van kunsaas en die aanbieding daarvan, kan ons letterlik boeke daaroor skryf (soos wat ek reeds die afgelope veertien jaar doen).

Ek onthou nog die eerste dag wat ek by ‘n hengelgereiwinkel ingestap en gevra het, “Ek gaan swartbaars hengel, wat het ek nodig?” Die eienaar het sy hand uitgesteek en na die rakke gewys wat vol kunsaas gehang het. Ek was oorweldig met die verskeidenheid en kleure. Ek was nie daar om sy winkel te koop nie, ek wou net kunsaas hê!

Vir diegene wat nog nooit swartbaars gehengel het nie, sal my voorstel wees om met ‘n swaailem te begin. Die eenvoudigste aas wat nogsteeds baie effektief is maar selde gebruik word, is ‘n nommer drie Mepps Black Fury. Die aas het ‘n silwer lem met ‘n swart plakker en geel kolletjies daarop. Die swaailem is baie lig en sal verkieslik met ‘n koffiemeulkatrol en gepaste stok gehengel word.

Spinnerbaits is die eintlike aas wat enige hengelaar regdeur die jaar, enige plek, enige diepte kan gebruik en nogsteeds sukses behaal. Die verskil in aanbiedings sal die deurslaggewende faktor wees. ‘n Voordeel van die aas is dat dit nie so maklik vashaak en verlore raak nie. Die grootte en vorm van die lemme, die kop se gewig asook die kleure van die frokkies / toiïngs speel ‘n belangrike rol in jou keuse. Die waterhelderheid bepaal die grootte en vorm van die swaailem se lemme. Sonder om te tegnies te raak – in helder water gebruik ons twee “willow leaf” lemme en in troebel water gebruik ons Colorado-lemme wat stadig draai en sterk vibrasies uitstuur. (Daar is ‘n verskeidenheid van ander soort lemme, maar wat nie nou ter sake is nie. Indien die hengelgogga jou gebyt het, kan jy ‘n diepte studie daaroor gaan doen.)

In my arsenaal sal daar ten minste ‘n wit/chatreuse, “fire tiger” en ‘n “Junebug” kleurige spinnerbait wees. Wit is ‘n goeie kleur indien die water helderskoon is en donkerder kleure in meer troebel water.

Hierdie aas dryf nie en die swemdiepte word bepaal hoe vinng die aas ingebring word. Gooi die aas uit en trek dit stadig teen ‘n konstante tempo terug indien die water troebel is. Jy moet die lem voel vibreer. Sodra jy die lem nie meer voel nie, beteken dit dat ‘n vis die aas moontlik gegryp het; daar is watergras om jou aas wat verwyder moet word, of jou vislyn is om die kunsaas verstrengel.

In helder water bring ek my aas in teen ‘n wisselende trek-stop tempo om ‘n beseerde klein vissie na te boots. In koue water moet ek aanpas by die visse wat nie gaan lus wees vir ‘n honderd meter wedloop nie. Die aas moet baie stadig, (die lemme moet net-net draai), baie naby aan die vis verby gebring word. Selfs ‘n tweede of derde gooi gaan nodig wees om die vis sover te kry om te byt. Vir swaailemme gebruik ek ten minste ‘n ses-voet-ses medium-swaar met ‘n vinnige aksie stok, ‘n lae profiel “baitcaster” katrol gelaai met 14lb monofilament- of fluoorcarbonlyn; watookal in jou begroting die beste pas.

Wenk van die week:

Die beste plek om vir swartbaars te soek is die plekke waar ander te bang is om te hengel – daar waar jou aas maklik vashaak en verlore raak.

Hannes Lindeque is die uitgewer van die spesialistydskrif, SA BASS, wat maandeliks verskyn en is self ‘n kranige swartbaarhengelaar.

 

KATROLKOORS: Regte metode vir ‘catch and release’

KATROLKOORS: Hê respek vir jou visvangomgewing

KATROLKOORS: Die beste lyn om te gebruik vir swartbaars

KATROLKOORS: Leer meer oor die beste katrol vir swartbaars

KATROLKOORS: Swartbaarhengel regdeur die jaar

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button