BlogsOpinion

KATROLKOORS: Die beste lyn om te gebruik vir swartbaars

Ons het nou al riglyne gekry hoe om met ander oë na 'n visstok vir swartbaarhengel te kyk en watter katrol die beste gaan werk óf behoort te werk. Nou, watter vislyn? Is daar regtig 'n verskil?

Ons het nou al riglyne gekry hoe om met ander oë na ‘n visstok vir swartbaarhengel te kyk en watter katrol die beste gaan werk óf behoort te werk. Nou, watter vislyn? Is daar regtig ‘n verskil?

Ja, definitief, want onthou dat jou lyn die enigste kontak is tussen jou as hengelaar en die vis. Alles in die lewe raak so maklik ingewikkeld, selfs as dit by ‘n eenvoudige tydverdryf kom soos hengel.

Daar is inderwaarheid vier groepe vislyn. Elke groep het sy eie voor- en nadele wat elke groep dus geskik maak vir sekere swartbaarhengeltegnieke.

Die eerste soort vislyn wat kommersieel beskikbaar gemaak was, het bekend gestaan as monofilament wat ‘n nylon-produk is. Daar is vandag nog monofilament op die rakke beskikbaar en word nogsteeds gebruik. Dit is ‘n “goedkoop” vislyn wat baie sterk is en redelik skaafbestand is. Die nadeel is dat die lyn baie rek in hom het en nie sensitief is vir bytseine nie, wat dit nie geskik maak wanneer daar met sagte plastiekwurms gehengel word nie. Mono is wel uitstekend wanneer met swaailemme (spinnerbaits) en harde plastiekvissies gehengel word en veral met oppervlakte-aas omrede die vislyn dryf. Omrede die lyn rek gee dit die vis net daardie breekdeel van ‘n sekonde langer tyd om die aas behoorlik te vat voordat die hoeke vasslaan.

Co-polymer is die tweede groep. Dit is ‘n verbeterede monofilamentlyn wat beter skaafbestand is, het minder geheue en is dunner as monofilament. Dit is ‘n goeie lyn om in struktuur te gebruik waar daar baie skaafplekke soos klippe en stompe is. Hierdie lyn sink stadig en kan nie vir oppervlakte-aas gebruik word nie, maar wel vir harde plastiekvissies wat duik. Hoe dunner die lyn is, hoe dieper sal die aas duik en ook omgekeerd. Omrede die lyn ook rekbaar is, sal ek nie sagte plastiek-aas daarmee hengel nie.

Die derde groep en heelwat duurder as die voriges, is fluorocarbon. Dit is nie ‘n nylonproduk nie, het ‘n hoë digtheid en sink dus vinnig. Die voordeel van die lyn is dat dit amper onsigbaar is in skoon, helder water. Dit is ‘n “stywer” lyn as ander nylonlyne en “spring” maklik van ‘n koffiemeulkatrol af. As gevolg van sy hoë digtheid, is dit ‘n baie meer sensitiewe lyn en geskik vir sagte plastiek-aas. Dit is ook geskik vir swaailemme en harde plastiekvissies wat baie diep duik. Die nadeel van die lyn is dat dit maklik skaaf en swak plekkies kry. Gaan hierdie lyn dus gereeld na en herknoop sodra ‘n swakplek gevoel word.

Die laaste groep is vleglyn (braid). Dit is ‘n duur super-lyn met geen geheue, geen rek in hom nie en dus baie sensitief. Die lyn bestaan uit ‘n aantal dunner “garings” wat gevleg word om een sterk lyn te vorm. ‘n Hengelaar kan dus baie ver hengel en nogsteeds ‘n byt voel en goed vaskap. Dit is ideaal wanneer daar in digte struktuur gehengel word en die lyn kan selfs deur watergras en waterlelies sny wanneer die vis oploop gaan met die aas. Die lyn dryf en kan ook gebruik word wanneer met oppervlak-aas gehengel word.

Die nadeel is egter dat die lyn baie duidelik sigbaar is in helderskoon water, maar dit kan oorkom word deur ‘n stewige “fluorocarbon” voorslag te gebruik.

‘n Ander nadeel is dat die lyn in sy eie windings inbyt wat probleme gee wanneer weer uitgegooi word. Ook is “overwinds” met ‘n “baitcaster” ‘n ergerlike nagmerrie.

Breekkrag: Oor die algemeen is 10 tot 12 pond lyn goed genoeg wanneer die hengelaar met harde plastiekvissies hengel. Vir sagte plastiek-aas, swaailemme en jigs sal ek tussen 14 tot 17 pond gebruik. In damme wat bekend is vir hulle groot visse sal ek beslis dikker lyn, 20 pond en swaarder, gebruik. Vir swartbaarhengel sal ek nooit uitspattige kleure lyn gebruik nie, maar eerder groen of wit.

Wenk van die week:

Koop altyd die beste lyn wat jy kan bekostig en spoel die lyn in dieselfde rigting op die katrol as wat dit op die lyntol opgedraai was.

Hannes Lindeque is die uitgewer van die spesialistydskrif, SA BASS, wat maandeliks verskyn en is self ‘n kranige swartbaarhengelaar.

 

KATROLKOORS: Leer meer oor die beste katrol vir swartbaars

Swartbaarhengel regdeur die jaar

SA Bass berig nou weeklikse bederf vir Lim hengelaars

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

 

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button