EntertainmentLifestyle

Kan jy dalk land se lekkerste koeksisters bak? Skryf nou in!

Solidariteit Helpende Hand het die soektog na Suid-Afrika se lekkerste koeksister afgeskop.

POLOKWANE – Koeksisters is ‘n lekkerny eg aan die boeregemeenskap en elke dorp beskik oor ten minste een bobaas koeksister-bakker. Dikwels koop mens die heerlike koeksisters by ‘n basaar en as jy die krakerige soetigheid byt, loop die stroop behoorlik. Baie mense stry oor waar hulle die lekkerste koeksisters in die dorp kan kry, maar die bespiegeling sal binnekort iets van die verlede wees. Solidariteit Helpende Hand het die soektog na Suid-Afrika se lekkerste koeksister afgeskop.

Dié organisasie, met sy meer as 120 takke, het vandeesweek die kompetisie genaamd Stoofstories: Dié Koeksister Kompetisie, van stapel gestuur en nooi nou die bobaasbakkers van regoor die land uit om vir dié kompetisie in te skryf. “Die doel van hierdie projek is nie net om die lekkerste koeksister te bekroon nie, maar ook om die wenresep as deel van ‘n werkskeppingsprojek te benut waarby die bakker en behoeftiges sal baat,” vertel Anél du Preez, projekbestuurder van Helpende Hand. “Koeksisters vorm ‘n belangrike deel van ons Suid-Afrikaanse kultuur en is as’t ware met ons harte vervleg.

As mens dink aan eg Suid-Afrikaanse kookkuns is koeksisters beslis een van die eerste dinge waaraan jy dink. Watter beter manier om dan die tradisie te vier as met hierdie kompetisie?

Daarom soek ons nou na die koeksister wat jou tong verras en die tong laat klap van lekkerte.” Stoofstories is ook op soek na die stories agter die koeksister en verhale, staaltjies en selfs gerugte oor koeksisters word ingewag. “Daar is talle stories oor koeksisters – die manier waarop die geheime resep behoue gebly het, hoe die resep die Groot Trek oorleef het, of hoe die resep ontdek is – en dié stories moet vertel word,” sê Du Preez. Inskrywings vir die kompetisie sluit op 31 Mei waarna steeksuitdunrondtes regoor Suid-Afrika gehou sal word.

Die finaal sal in September in Pretoria aangebied word. Vir meer inligting oor die kompetisie, reëls en om in te skryf, besoek www.stoofstories.co.za. Navrae kan ook gerig word aan: Anél du Preez Solidariteit Helpende Hand: Projekbestuurder 012 644 4390 anel@helpendehand.co.za.

Related Articles

Back to top button