Editor's choiceLocal NewsNews

Ver oor grense strek die boodskap wat hul bring

Jackie Smith, wat in die Aprilskoolvakansie saam met haar man Hendrik en kinders Mias en Cecile in Mosambiek gaan uitreikwerk doen het, sê geen sendingstasie kan bestaan en voortbestaan sonder sendelinge nie.

POLOKWANE – “Uitreikwerk behels nie net ‘n paar preke en kerk hou nie, dit vra dat mense Jesus moet beleef en ons moet uitgaan en vir hulle wys hoe.”

Jackie Smith, wat in die Aprilskoolvakansie saam met haar man Hendrik en kinders Mias en Cecile in Mosambiek gaan uitreikwerk doen het, sê geen sendingstasie kan bestaan en voortbestaan sonder sendelinge nie.

Tesame met pastoor Lourens Jooste en sy vrou, Sonja, het hulle inwoners in dié buurstaat gaan toerus met die Woord.

Die Smiths moes 300km ver reis na ‘n gemeenskap in Chikumba. Die gesin is verlede jaar bekendgestel aan Gateway to Africa Ministries. Hulle het, saam met ander lidmate, na Malawi gereis om uit te reik. Dit is hier waar hulle die Jooste-egpaar, wat reeds sedert Februarie permanent in Mosambiek woon, ontmoet het en bande gesmee het.

Die Joostes bedien inwoners van Chikumba en die Pafuri-vallei geestelik en ook in terme van basiese behoeftes. Daar is ‘n groot behoefte aan basiese geriewe soos water, vertel Jackie.

“Inwoners stap gemiddeld tussen drie en vyf kilometer op ‘n keer net om vars water te bekom.”

Lourens het onlangs ‘n waterkar gekry waarmee water Vrydae en Saterdae na die mense van Chikumba en die Pafuri-vallei aangery word. Die inwoners was aanvanklik skugter om te kom water haal, maar doen dit nou met gemak. “Hulle ontvang kos, én sielskos,” vertel Jackie.

Pastoor Lourens en Sonja het Dumela Wildernis Safari in Mosambiek begin. Die kamp is in die oorgrenspark geleë sowat 15km van die grens af. Ongerepte wêreld. Daar is wel kampeergeriewe. Die grootste Koorsboomplantasie is hier geleë,” vertel sy. Die inwoners van die gebied het nie net ‘n behoefte aan die fisieke dinge nie, maar is geestelik ook afgeskeep, vandaar die uitreik na die gebied.

Die Jooste-gesin bly tans in ‘n karavaan met ‘n tent.

“Daar is reeds ‘n houthuisie en die fondasie is reeds gegrawe, maar sodra ons ‘n skenking kry vir sement kan die houthuisie opgerig en gebruik word,” vertel Jackie.

Verlede jaar was daar ‘n muisplaag in die gebied en vanjaar is die gebied deur droogte geteister.

Progress Milling het in April ‘n halfton mieliemeel saam met die Smiths gestuur, terwyl verf van Jacks Paint saamgestuur is vir die verf van die geboue.

Die behoefte aan eenvoudige behoeftes is groot, volgens Jackie. Daar is ‘n groot behoefte aan maandelikse huisvoorraad, finansies, gas en diesel. Ou klere, en Engelse en Portugese Bybels word ook benodig. As dit op jou hart druk om ‘n skenking te maak, kontak vir pastoor Lourens Jooste by +258 82 456 5214 of africalou@gmail.com of skakel vir Jackie by 081 478 0967.

Related Articles

Back to top button