Local NewsNews

Vermoedelike mishandeling toe eintlik mooi verhaal van redding en ware liefde vir diere

'n Verbyganger het 'n foto van dié brandmaer hond aan Review gestuur nadat sy verlede Donderdagoggend verby die hond gery het.

POLOKWANE – Skok en afgryse is die beste manier om mens se emosies te beskryf wanneer jy die uitgeteerde husky vir die eerste keer sien.

‘n Verbyganger het ‘n foto van dié brandmaer hond aan Review gestuur nadat sy verlede Donderdagoggend verby die hond gery het.

“Ek het rem getrap en teruggery. Dit was ‘n verskriklike gesig. Ek het die roereiers wat ek vir my middagete ingepak het op die sypaadjie uitgegooi vir die hond om te eet. ‘n Man het ook stilgehou en toe by sy huis hondepille gaan haal vir die hond. Die hond kon dit nie insluk nie en wou naar word daarvan,” vertel die vrou.

Die hond het later by ‘n hek, wat gedeeltelik oop was, probeer ingegaan en só het die vrou agtergekom waar die hond bly.

“Ek het die diere-beskermingsvereniging geskakel, maar ek was nie seker of hulle sou uitkom nie. Daarna het ek Review gekontak. Ek kon die saak nie net so laat nie,” vertel sy.

Review het self na die hond gaan soek en hom opgespoor.

Drie skoolseuns op fietse wat op die straathoek gestaan het, het gesê dat hulle nog nooit ‘n hond gesien het wat so sleg lyk nie.

Hulle het gesê hulle ry gereeld verby die huis waar die hond gesien is op pad skool toe en terug, maar kon nie onthou dat hulle al voorheen die hond daar gesien het nie.

Terselfdertyd het ‘n bakkie van die dierebeskermingsvereniging stilgehou. Diere-inspekteur Moloko Manaka het ‘n inspeksie gedoen en met die eienaars van die hond gepraat.

Vrydagoggend het Review weer by die huis gaan ondersoek instel.

Die hond het op ‘n kombersie by die voordeur gelê. Vroegoggend was daar niemand by die huis nie, maar later die dag was die eienares van die hond, Elzanie Raaths, wel tuis.

Die ware verhaal van die maer husky het toe aan die lig gekom.

“Ek en my vriend het verlede Sondag by vriende gaan kuier op die Tweefonteinplotte. Op pad terug het ons ‘n man teegekom wat die hond aan ‘n tou gelei het.

“Ons het rem getrap en teruggery. My vriend het gesê hy gaan die hond vat by die man. Ons het ingestem toe die man gesê het hy wil R50 vir die hond hê. Ons is lief vir diere en kon die hond nie net aan die genade oorlaat nie, ons wil nie diere so sien swaarkry nie,” het Raaths vertel.

Sy het vertel dat hulle net die vorige naweek by die huis ingetrek het, en dat haar vriend vir haar ‘n hondjie wou aanskaf.

“Ons wou eintlik wag tot ons behoorlik ingeburger is voor ons ‘n hond kry, maar ek het vir hom gesê dat ek die hond wou hou en ‘n beter toekoms vir hom wou verseker.

“Ons het hom Rocky genoem. Verlede Maandag het ons hom hondesalon toe gevat om te laat skeer, want sy hare was ontsettend gekoek en vuil.”

Rocky het intussen sonder huiwering by Raaths kom staan en sy het saggies oor sy kop en onder sy ken gestreel, iets wat hy duidelik geniet het.

Manaka het versoek dat die hond veearts toe geneem word vir ‘n behoorlike ondersoek en dit het Raaths en haar vriend, Mario de Klerk, Donderdagaand reeds gedoen.

“Die DBV sal ‘n ogie hou oor Rocky se welstand en sy vordering monitor,” het Manaka gesê.

Related Articles

Back to top button