Local NewsNews

Kan jy jou verbeel, sonder kaneel?

Skryf in vir SAVF Polokwane se melktertkompetisie om pryse in te palm.

POLOKWANE – Die reuk van vars gebakte melktert saam met ‘n koppie boeretroos bring vir talle mense herinneringe van om die kombuistafel kuier. Hierdie oeroue lekkerte is steeds ‘n gunsteling en kan vir jou tot R3 000 in die sak bring.

SAVF Polokwane hou ‘n fondsinsamelingsprojek in die vorm van ‘n melktertkompetisie waar deelnemers hulle slag kan wys in die kombuis.

Serena McLaren, streeksbestuurder van SAVF, verduidelik die Departement van Sosiale Ontwikkeling het die SAVF se subsidie gesny. “Ons benodig nou geld om oorhoofse uitgawes te dek. Dienste wat die SAVF aanbied sluit in maatskaplike sake, behuising vir bejaardes en gesinsorg, en daarom het ons geld nodig om sodoende die gemeenskap te dien.”

Is jy die SAVF Melktertkampioen? Skryf dan in vir een van die drie kategorieë; outydse gebakte skilferkors melktert, ongebakte melktert en melktert met ‘n kinkel. Inskrywings beloop R50 per tert en is betaalbaar voor of op 26 Maart. 

Die beoordeling vind op dié dag by die SAVF se kantore plaas en beloof om ‘n pretdag te wees met Martiens Joubert, of Juba soos almal hom ken, wat musiek gaan maak en as seremoniemeester optree.

Deelnemers moet aan die beoordelaars vertel waarom hulle melktert verdien om te wen.

‘n Wenner sal in elke kategorie aangekondig word, asook ‘n algehele wenner wat met R3 000 sal wegstap. Daar is ook ander pryse van onder andere The Flying Pig en BakeryCo.
Beoordelaars is Juan en Armand Potgieter van BakeryCo., en Alta van Aardt van die VLU.

Terwyl die beoordeling plaasvind kan deelnemers en hulle families ontspan in die teetuin waar daar melktert, kaaskoek, souttert en boereworsrolle te koop gaan wees. Daar word beoog om vermaak vir die kinders te reël.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button