KidsParenting News

Dis nie nodig om bang vir die tandarts te wees nie

Hoe berei jy egter jou kind voor vir sy eerste besoek aan dié soort dokter? Plaaslike mondhigiënis van Floss, Natasha van Reede van Oudtshoorn gee raad.

POLOKWANE – Vir menigte volwassenes is ‘n besoek aan ‘n tandarts iets waarna hulle glad nie uitsien nie.

Hoe berei jy egter jou kind voor vir sy eerste besoek aan dié soort dokter? Plaaslike mondhigiënis van Floss, Natasha van Reede van Oudtshoorn gee raad.

“Tel jou woorde. Moet nooit jou kind bang maak vir ‘n tandarts nie. Ons hoor gereeld “as jy nie stil lê nie, gaan die tannie jou seermaak” of “as jy stout is gaan die oom jou tand trek”. Vermy woorde soos pyn, seer, ongemaklik. Moenie vir jou kind vra “is dit seer?” wanneer hulle in die stoel lê nie, dit laat hulle wonder of dit veronderstel is om seer te wees, en dit maak hulle angstig vir wat nog kom. Vra eerder: “is dit lekker?” of “kielie dit?”

Natasha verduidelik alhoewel ons kinders vooraf wil voorberei, is dit beter om eerder te sê “ons gaan vandag by ‘n tannie speel wat baie visse het” (Floss kinderpraktyk het ‘n seelewe tema) of “ons gaan vandag vir ‘n oom kuier wat ons gaan leer hoe om mooi tande te borsel”. As jy oor tande moet praat, kan jy sê “die tannie gaan jou tande tel”.

“Smoor jou eie vrese vir die tandarts voor jou kind. Ouers wil baie keer hulle kinders saambring na hulle eie afsprake toe sodat hulle kan sien hoe dit werk, maar ek raai dit sterk af. Volwassenes se afsprake is meer ingewikkeld, ons gebruik ander toerusting vir volwassenes as vir kinders, en volwassenes het baie meer mondprobleme as kinders soos tandvleis wat bloei, sensitiewe tande en verkalkte plaak.”

Sy raai aan om eerder ‘n baie jong kind na ‘n ouer boetie of sussie se afspraak te neem, maar dit is verkieslik dat sy eerste afspraak slegs saam met sy ouers is.

“Vertrou ons. Ons is opgelei om kinders op hulle gemak te laat voel en jare se ondervinding het ons geleer wat werk en wat om te vermy. Soms is dit beter om te maak of jy jou foon antwoord en uit die spreekkamer uit te stap, want kinders raak soms kriewelrig of huilerig met ouers naby. Dit gebeur min, maar die tandarts sal vir jou sê as hy dink dis nodig dat jy net ‘n draai loop.”

‘n Ouer bly verantwoordelik vir hulle kind se mondgesondheid. Wees streng met roetines by die huis rondom tandeborsel en gesond eet.

Elke kind moet so gou as moontlik leer om self te borsel, maar ma of pa kry ook ‘n beurt om te borsel totdat hulle self skoenveters kan vasmaak.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button