Local NewsNews

Welgelegen-inwoners teken petisie

'n Petisie gekant teen die nuwe munisipale speelpark in Welgelegen op die hoek van Diemeerstraat en Potgieterlaan sal binnekort aan die munisipaliteit oorhandig word.

‘n Petisie gekant teen die nuwe munisipale speelpark in Welgelegen op die hoek van Diemeerstraat en Potgieterlaan sal binnekort aan die munisipaliteit oorhandig word.

Sowat 100 mense het die petisie onderteken. Die inwoners meen die geld wat die munisipaliteit op die park bestee kan vir meer dringende munisipale probleme soos waterpype en slaggate gebruik word.

Die Edwel-buurtwag sê hulle het al vele kere met die munisipaliteit gepraat en gevra vir ‘n muur of palisade om die oop veld agter Hoër Tegnieseskool Tom Naudé toe te maak, maar niks het gekom van hulle versoek nie.

Antuanette Pretorius, sekretaresse vir die Edwel buurtwag sê: “Kriminele gebruik die oop veld om te vlug nadat hulle misdade in ons buurt gepleeg het. Hulle hardloop oor die veld, oor die treinspoort en verdwyn. Ons het die munisipaliteit genader om help, maar niks nie. Die geld wat hulle vir die park gebruik, kan eerder gebruik word om die veld toe te maak,” sê Pretorius.

Die speelpark sal R800 000 kos en die munisipaliteit beoog om die park teen Desember te open. Daar sal ontspanningsaktiwiteite soos strandsokker en vlugbal by die speelpark beskikbaar wees, asook ‘n braai-area.

Inwoners vrees dat die speelpark dwelms, drank en geraas na hulle buurt gaan lok.

Volgens Pretorius het hulle twee dae vir twee ure by die park gesit en name kry vir die petisie. “Ons het 100 name en die petisie gaan ons aan die wykraadslid, Franco Marx oorhandig. Hy sal dan die petisie aan die munisipaliteit oorhandig,” verduidelik Pretorius.

Die inwoners sê Welgelegen bestaan uit bejaardes en daarom is die speelpark met sy braai area nie geskik vir die buurt nie. “Daar is ander areas beter geskik vir hierdie soort ontwikkeling,” sê Pretorius. Tidimalo Chuene, munisipale woordvoerder sê die munisipaliteit respekteer en verwelkom enige insettinge van inwoners wat ontwikkeling in die stad betref. “Sodra ons die petisie ontvang sal dit aan die relevante mense gegee word vir insette.”

Related Articles

Back to top button