Local NewsNews

‘My erfenis lê in ‘n konsentrasiekamp’

Review het met Johan Willemse gaan gesels oor wat alles hier in Polokwane tydens die Tweede Vryheidsoorlog, tussen die boere en die Brisse magte, gebeur het.

POLOKWANE – Om te gaan kampeer is vir talle ‘n stokperdjie of selfs vakansie, maar meer as 100 jaar terug het die woord ‘kamp’ ‘n heel ander betekenis gehad.

In die tye van die Tweede Vryheidsoorlog tussen die boere en die Brisse magte, het die woord ‘kamp’ ‘n negatiewe konnotasie gehad.

Vroue en kinders is in die vroëe 1900’s geweldadig van die plase af verwyder en in ‘n konsentrasiekamp laat bly. Dit is gedoen sodat hulle nie proviant na hul mans en broers op die gevegsfront kon stuur nie.

Dit het selfs in Polokwane gebeur en Review het met Johan Willemse gaan gesels oor wat alles hier gebeur het. Johan het baie navorsing oor die geskiedenis van die dorp gedoen.

“Die konsentrasiekamp was by die oop stuk grond regoor waar Westenburg vandag gelëe is en die konsentrasiekamp begraafplaas ‘n ent weg gelëe.”

Teen die einde van Mei 1901 is 300 tente opgeslaan en is die inwoners agter doringdrade ingeperk. Wagte in blokhuise het verseker dat niemand sou ontsnap nie. Daar was ‘n groot tent wat as hospitaal ingerig was, een as administratiewe kwartiere en een as stoorplek. Nog vier hospitaaltente is later gevestig, maar daar was slegs 28 beddens beskikbaar in die hospitaaltente.

“Daar is vier tot ses families in een tent saamgehok en by tye was daar tot 4 000 mense opgesluit in die Pietersburgse Konsentrasiekamp met sy 300 tente. Dit is gemiddeld 13,33 mense per tent. Die tente was oor die algemeen in ‘n gehawende toestand en dit het min skuiling teen die elemente en winterkoue gebied.”

Almal moes arbeid verrig vir die kampowerheid en take het ingesluit die vee van strate, onkruid uitskoffel, afleivore grawe en selfs uitgaan en help met hout versamel.

Jacobus Potgieter was die amptelike grafgrawer en het elke dag na die lyktent gegaan waar hy die lyke gemeet en dan spesiale grafte vir elke lyk, volgesn mate gegrawe het. “Hy verklaar dat daar tot 16 of 17 begrafnisse per dag gehou is, waarvoor hy die grafte moes grawe.”

Die gedenkmuur.

1. Die gedenkmuur: Die gedenksteen van die gerestoureerde begraafplaas is in 1986 onthul. Hier is herwonne grafstene vanuit die konsentrasiekamp geberg.

Gesamentlike Hoofstad-gedenkteken.

2. Gesamentlike Hoofstad-gedenkteken: Aan die agterkant van hierdie gedenksteen kan die spore gesien word van diegene wat op 11 Oktober 2000 op die Stadsplein van Pietersburg volvoer is. Dit sluit in voetspore, koetsperde asook Wielryder-rapportryerskorps se fietsspore. Daar is ook die klipstapel wat gestapel is deur die kulturele leiers teenwoordig tydens die herdenkingsgeleentheid.

Toegangshekke.

3. Toegangshekke: Die sierhekke tot die Konsentrasiekampbegraafplaas is tydens die restourasie van die begraafplaas gedurende 1986 opgerig.

Beyers Gedenknaald.

4. Beyers Gedenknaald: Na die Tweede Vryheidsoorlog is die Afrikaners gereeld herinner aan die wreedhede van die Vryheidstryd, en op 16 Desember 1908 is die marmer-gedenknaald wat daar sentraal naas die vlagmas pryk, deur Generaal Beyers onthul.

Beeld ter herdenking aan onbekende kinderhelde.

5. Beeld ter herdenking aan onbekende kinderhelde: Geloftefeesgangers het deur jare fondse ingesamel om ‘n gedenkteken op te rig in herinnering aan die Onbekende Kinderhelde uit die oorlog. Op Geloftedag 1993 is die beeldjie van die Konsentrasiekampdogtertjie voor die gedenkmuur op die begraafplaasterrein onthul. Nadat die beeld gesteel is en weer gevind is, is daar ‘n traliewerk om haar gebou en ‘n muur in die vorm van ‘n tent agter haar. Sy is intussen weer gesteel.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button