Local NewsNews

Vure verwoes plase buite Mokopane

Boere in die Mokopane-omgewing het groot skade gelei na 'n erge brand Dinsdagoggend op die R101 by die Sterkrivier-afdraai uitgebreek het.

MOKOPANE – Mark Weyford, Bestuurder van die Mokopane Working on Fire-span (WoF), sê verlede maand was daar reeds meer as 2 000 ha in die Mokopane-omgewing verwoes weens brande.

WoF en die boeregemeenskap het skouer aan skouer gewerk om die erge brande Dinsdag te blus.

“WoF se span werk onverpoos om brande te blus maar ‘n verdere 1 648 ha is afgebrand ondanks hul pogings. Die plaas Pondorosa is totaal vernietig in die brand, ‘n groot deel van Moorddrift het deurgeloop en ‘n hele paar kleinhoewes het ook groot skade gelei.

“Dit bekommer my dat 90% van die brande klaarblyklik kwaadwillig gestook word.”

Volgens Wreyford het ooggetuies gesien hoe ‘n silver Toyota RunX met sy noodligte aan Dinsdagoggend wegjaag net voordat die veld begin brand het.

Bosveld was Dinsdagmiddag op die toneel toe Wreyford vertel het dat die vuur eers in ‘n westelike rigting na die berg toe gebrand het, maar die wind het dit weer in ‘n noordelike rigting teruggedruk.

‘n nader foto van die vuur langs die R101.

“Die vuur het in die rigting van Moorddrift melkery gehardloop en ons was bekommered omdat daar ‘n paar plase en huise is. Die brand het oor die R101 gespring en in die rigting van die N1 versprei. Die wind het dit nie maklik gemaak om die brand te bekamp nie en vlamme het vinnig oor die kort gras versprei,” verduidelik Wreyford.

Mookgophong se WoF-span asook die brandweer, boere en buurtwagte van die omgewing het by die brandbestryding aangesluit en alles is in die stryd gewerp om die vlamme te blus. Die WoF-span werk sedert Vrydag, 31 Augustus sonder ophou om brande te blus. Die span het tot Dinsdagaand om 21:30 nog vure afgeweer. “Wat ‘n riem onder my hart is, is toe ek die span Dinsdagaand afgee en sê hulle moet eers Woensdag na 13:00 begin werk, het hulle eenmalig besluit om Woensdagmiddag aan te meld omdat daar boere is wat hulle dalk mag nodig kry.”

Wreyford moedig boere aan om by WoF aan te sluit en daardeur te verseker dat hulle gehelp kan word deur opgeleide mense as brande uitbreek.

“Dit is ‘n aanwins vir enige boer om teen ‘n minimale jaarlikse bedrag by WoF aan te sluit. Ons help die boere met voorbrand en indien ‘n brand sou uitbreek, help ons om dit te bestry. In vandag se tyd is dit ‘n noodsaaklikheid vir die boer,” meen Wreyford.

Hoë vlamme rig skade aan die natuur aan.

Die Distrik Landbou Unie (DLU) het ‘n dringende versoek uitgestuur aan boere na dit aan die lig gekom het dat daar kwaadwillig brande op plase gestig word. Renita Prinsloo, DLU Sekretaresse, sê boere moet veiligheid opskerp en ekstra patrollies ry, sigbaarheid verhoog en alle verdagte gedrag onmiddelik rapporteer.

“Nog plase is in die brande verwoes omdat boere hul plase verlaat het om met brandbestryding te help. Dus versoek ons dat almal waaksaam is en voorsorg tref om sulke gevalle te verminder en onmiddellik op enige noodroep te reageer.”

Marcelle Maritz, Vryheidsfront Plus Limpopoleier, sê dit is hartverskeurend om die boere se grond so te sien brand.

“Daar gaan harde werk in die plase in en dan word dit moedswillig afgebrand.”

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button